Subscribe by Email

Naas en die skoppende Bokke

Die eertydse Springboklosskakel, Naas Botha was pas in die nuus met sy kritiek op die Springbokke wat te veel skop, of daar is reaksie: “Hoor wie praat.”

Die uwe het nooit gedink hy sou ‘n lansie vir Naas breek nie. Maar hier is dit nou.

Daar is ‘n groot verskil tussen pale toe skop en die bal uit die hand uit skop. Die feit dat iemand die bal sekuur deur die mikke kan sool, beteken nie dat hy ‘n uitstekende taktiese skopper is nie.

Naas was beide, en hy kon takties verwoestend skop – en hiervoor moes ek hom al lankal krediet gee.

Teensinnig, want skoppende losskakels is nie my gunsteling soort losskakels nie, veral nie as hulle die Vrystaat laat verloor nie.

Maar ek het nog minder tyd vir spelers, maak nie saak in watter posisie nie, wat dink hulle kan takties skop en dan hul eie span uit die wedstryd haal, hoofsaaklik deur die besit af te staan deur dit in die opponente se snellers se keelgate af te skop. En dis hoekom ek die afgelope klompie jaar al dikbek vir die Vrystaat se rugby is. Daar het amper nie ‘n wedstryd verbygaan nie of die opponente het ‘n drie of twee, en al te dikwels die wendrie, op hierdie manier teen die Vrystaat gedruk.

Soms het dit nie saak gemaak nie, soos die drie langs die pale van SWD teen die Vrystaat, toe ‘n mamparraskop van die briljante hardlopende losskakel, Kennedy Tsimba, die Suid-Kapenaars ‘n paselladrie besorg het.

Maar vanwaar die beheptheid met skoppery? Die Wit Tornado het immers stert gewaai met hardlopende losskakels soos Jackie Snyman, Henry Honibal en Tsimba.

Maar wat van De Wet Ras en Generaal de Waal? De Wet kón ‘n bal sool, maar het die mense vergeet dat hy ook ‘n meer as bedrewe senter was? Hoe het Gysie Pienaar en Pedrie de Villiers in die agterlyn ingeglip gekom vir hul strooptogte as die agterlyn nie balle gevoer is nie? Die gevolg was Springbokvleuel op Springbokvleuel wat uit die Vrystaatse bodem gekom het.

De Waal was ‘n bietjie van ‘n ander saak, met die plaasvervangereël en Meyer Bosman wat kon opkom en die agterlyn in rat kry – dikwels selfs uit die binnesenterposisie.

Kortom, die speler wat die balle deur die mikke kan jaag, is nie noodwendig ‘n goeie taktiese skopper nie. En ‘n skerpskutter is nie noodwendig ‘n losskakel se stert nie.

Dan is daar die kwessie van afrigting.

Jannie de Beer was nie net ‘n wonderlike skopper pale toe nie, hy was ook ‘n skitterende hardlopende losskakel as hy die dag lus het.

Toe word Nick Mallet Springbokafrigter. Volgens die mediaberigte was hy klaar langtand vir De Beer, wonderlike skopprestasies ten spyt. Omtrent die eerste wedstryd na Mallet Springbokbreier geword het was ‘n wedstryd tussen die Vrystaat, met De Beer op losskakel, en Mallet se ou span, die Boland.

En Mallet laat weet, het die media berig, ‘n skoppery is uit.

Maar wat doen Jannie die dag? Hy skop die wedstryd dood met Mallet in die pawiljoen. As die Vrystaat daai wedstryd deurgetrek gekry het (ek kan werklik nie onthou nie) was dit net-net, want al wat ek onthou was dat die Vrystaat erg gesukkel het.

En dit het niemand verbaas dat Mallet toe die daad by die woord voeg en Jannie die trekpas gee nie. En niemand kon Mallet verkwalik nie, want hy het mos net gedoen wat hy gesê het hy gaan doen as Jannie sou skop.

As iemand wil skop, moet hy kan skop. Jan Schlebusch het teen Tukkies vir Pierre Edwards binne-in die Springbokspan geskop, en die Shimlas uit hul wedstryd – terwyl Shimlas dié dag opsigtelik die sterker span was. En Jan was nie eens die losskakel nie.

In ‘n stadium het die All Blacks die posisies van losskakel en binnesenter so as kombinasie beskou soos wat Suid-Afrika binne- en buitesenter as kombinasie beskou het. Afhangende van watter kant van die veld die spel was, was die “losskakel” aan die oop kant dan die “dienende” losskakel.

As die bal geskop word, moet dit nommer pas in die situasie gekop word. Die Cheetahs het in ‘n wedstryd teen die Bulle twee drieë gekry deurdat die agterlyn van die Bulle vlak, en die heelagter diep gestaan. Het Sias Ebersohn het dit uitgebuit met skoppies oor die agterlyn, en voor die heelagter.

Ongelukkig is die wedstryd tussen die WP en Vrystaat nie oor die radio uitgesaai nie, en danksy betaal-TV, is dit raaiwerk oor wat op die veld aangegaan het. Die WP se twee drieë is blykbaar op ‘n soortgelyke wyse teen die Cheetahs gedruk. Maar hoe het die bal by Gio, teen die kantlyn uitgekom? Was dit nie vir hom geskop nie? Indien, dan moet iemand se agterent ‘n skop kry, want die hoeveelheid drieë wat die Cheetahs op hierdie manier afstaan is lankal nie meer snaaks nie.

Soms is die drieë “stroomop” om die een of ander rede net te maklik. Jare gelede het die WP as volslae gunstelinge na die Vrystaatstadion opgeruk. Kort voor lank is ‘n Vrystater beseer, en omdat reserwes destyds nog nie beseerde spelers kon vervang nie, het die agsteman, Johan Kleingeld, op vleuel gaan diens doen. Die WP skop ‘n verligtingskop van onder hul eie pale kantlyn toe, maar in Kleingeld op die WP-tientreë se keelgat af. En so aftrap-aftrap draf Kleingeld deur en plaas die bal langs die pale. Die Vrystaat veroorsaak ‘n opskudding deur die WP goed af te ransel.

Rugby van destyds kan nie met rugby vandag vergelyk word nie. Maar wat het van die Vrystaat se vermoë geword om Springboksenters en –vleuels te lewer? Wegkoop is een verklaring, maar iemand lewer tog die spelers op wat die groen-en-goud op die punte oor die skouers trek.

Na Mallet was daar al ‘n paar Springbokafrigters. Hulle moet die regte voorbeeld stel om nie losskakelspel in die land te verongeluk nie. As ‘n losskakel van stryk af is, help dit nie hy “skakel oor” na skopwerk nie … die Springbokspan en enige ander span is nie die plek waar ‘n speler wat van stryk af is geabba kan word tot hy weer vorm herwin het nie.

Herman Toerien