Subscribe by Email

‘n Paar perspektiewe oor persvryheid

‘n Paar dae gelede reik die media-waghondliggaam, Verslaggewers Sonder Grense, ‘n verklaring uit wat die volgende aanhaling bevat:

“Given the current tension between … government and the press, which is very critical of this government, it is legitimate to wonder whether this inquiry into the print media is politically motivated,” Reporters Without Borders said. “We understand why the authorities would want to adapt the regulatory bodies to the new realities in the media sector, marked by the emergence of new technologies. But there is no need to reinforce control of the press. This council should not become a censor.

“The government must also ensure that the Press Council, which until now has been funded by the media, is completely independent. Government funding of the council, as the council’s new chairman, Julian Disney, has proposed, would cause a conflict of interest that would threaten media freedom.”

Dit klink so bekend, maar dit verwys nié na Suid-Afrika nie. Dit is Australië onder sy nuwe liberale regering wat so aan die bod kom.

Twee dae tevore het die minister van uitsaaiwese, kommunikasie en digitale ekonomie, Stephen Conroy die gewraakte aankondiging gedoen om te kyk: “…into the print media that will look at the effectiveness of current codes of practices, ways to enhance media diversity, and ways of substantially strengthening the Press Council’s effectiveness.”

Australië beklee die 18de plek op die persvryheidsindeks teenoor Suid-Afrika se 38ste plek. Beide lande is op die oomblik besig om die indeks die kreeftegang te gaan, maar dis meer insiggewend om te let daarop dat die twee lande nog in 2005 die 31ste plek gedeel het, met Australië wat daarna heelwat beter gevaar het, en Suid-Afrika wat selfs nog verder teruggesak het.

Dit is ook interessant om daarop te let dat die Aussies deurgaans swakker met persvryheid vaar as hul buurland, Nieu-Seeland. Nieu-Seeland beklee nou die 8ste posisie en vorder. Van die sewe lande wat beter vaar deel ses, almal Wes-Europese lande, die eerste plek, met Oostenryk in die 7de plek. Selfs Denemarke (11de) en België ( 14de ) vaar swakker as Nieu-Seeland.

Geoordeel op Verslaggewers Sonder Grense se optrede in die verlede, kan Suid-Afrika binnekort verwag om nog verder op die persvryheidsindeks te daal. Verlede jaar het dié waghondliggaam drie redes verskaf oor waarom Suid-Afrika vyf plekke teruggesak het: Julius Malema se optrede teenoor ‘n BBC-joernalis, die beplande media-tribunaal en die omstrede bepalings in die voorgestelde inligtingswetsontwerp.

Al drie sake is nog “hangende” in dié sin dat dit nog onduidelik is of die ANC langlippie trek oor Malema se breedsprakigheid, en daar nog nie genoegsame en konsekwente gerusstellings was dat die ander sake hul angel gaan verloor nie. Die feit dat Malema se ondersteuners tydens sy eerste verskyning voor die dissiplinêre komitee ook joernaliste onder die klippe gesteek het, sal sekerlik nie bydra tot ‘n gunstiger plasing nie.

Dis egter nie altyd die owerheid se aktiewe optrede wat ‘n land op die persvryheidsindeks agteruit kan laat boer nie. Suid-Europese lande soos Italië (49ste), Spanje (39ste) en veral Griekeland (70ste) vaar swakker as Suid-Afrika. Die rede dat die Grieke so swak vaar is oor die selfopgelegde sensuur van die mediabase, bykans almal skatryk nyweraars of skeepsmagnate. Die gevolg is dat die publiek die media as alliansievennote van die regering beskou, wat in dié stadium as “vyande” beskou word. Joernaliste loop dus net so lustig onder die betogers deur as die onlustepolisie. Ironies werk die onlustepolisie ook nie sagkens met die joernaliste nie. Verslaggewers Sonder Grense spreek juis die hoop uit dat die ekonomiese krisis persvryheid in Griekeland ‘n hupstoot sal gee.

Selfsensuur is ‘n onderwerp met skerp dorings. Verskeie vorme, gebaseer op die oorsake, word vermeld:

– Selfsensuur uit vrees. Onlangs is ‘n toneel van die Mozart-konsert geskrap omdat die betrokke opvoering ‘n toneel bevat het met die afgekapte koppe van onder meer Jesus en Mohammed. Die rede wat aangegee is, is vrees vir ‘n Moslem-terreuraanval.

– Ideologiese selfsensuur. Onlangs het pres. Barack Obama se gewildheid volgens ‘n peiling ‘n nuwe laagtepunt bereik. Dié nuus is deur die konserwatiewe Christian Coalition of America in sy e-posnuusbrief gedra, met sommer daarby die stelling dat dit in geen Amerikaanse koerant gelees sal kan word nie. Konseratiewe Christene verwys graag na ‘n vroeëre peiling wat aantoon dat die gemiddelde Amerikaanse joernalis liberaler neig as die gemiddelde Amerikaner.

Onlangs was daar in Volksblad se briewekolom ‘n “onderonsie” tussen Max du Preez en ‘n oud-redakteur, Hennie van Deventer. In wese het Du Preez Volksblad – onder meer – daarvan beskuldig dat dit tydens die vorige bedeling ‘n vorm van ideologiese selfsensuur toegepas het. Vroeër het Tim du Plessis, nou hoofredakteur van Nasionale Pers se koerante, geskryf dat hierdie soort selfsensuur ‘n koerant se geloofwaardigheid skade kan betrokke, onder meer omdat die internet nou soveel inligting dra dat ‘n koerant wat selektief met die werklikheid omgaan, kort voor lank ontmasker sal staan.

Die rissiepit-kommentator, Rhoda Kadalie, het onlangs in ‘n rubriek na selfsensuur as die diktatuur van die liberalis verwys. Hiermee het sy te kenne gegee dat daar nie werklik ‘n graadverskil is tussen die sensuur wat ‘n (konserwatiewe) regering toepas, en die selfopgelegde sensuur deur ‘n liberale publikasie nie.

Na die wyd-gepubliseerde voorval waarin ‘n regse na bewering die liberale Stellenbosse filosoof, prof. Anton van Niekerk se bril herrangskik het, het ‘n groep skrywers met Breyten Breytenbach ‘n beroep op vreedsame debatvoering gedoen. Dit het ‘n oproepe ingesluit dat die media nie die een kant van die saak verswyg nie, omdat dit tot frustrasievlakke lei.

En dan is daar die Julius Malema-haatspraakverhoor. Dit het die onversoenbaarheid van die filosofiese benaderings jeens mekaar duidelik onderstreep. Sonder om die regstegniese aspekte uit te pluis (dit sal die voorreg van die howe wees wanneer die saak onder appèl dien) toon die uiteenlopende reaksies hoeveel klem die liberale op die (individuele) reg op vrye uitdrukking plaas, teenoor die regte wat groepe, veral minderhede, het oor sake soos waardigheid en veiligheid. Natuurlik het van die kritici van regter Collin Lamont se uitspraak moedswillig “ras” by “minderheid” gaan inlees waar die regter nie ras bedoel het nie. Die uiteindelike vraag is of die uitspraak ‘n regsorde op grond van die beginsel van natuurlike geregtigheid onderskryf, al dan nie. Eers as dié vraag in die negatief staan, kan fout met die wetgewing gevind word wat ‘n regter in ‘n beweerde ongepaste uitspraak “indwing.” Om te gaan vlieë vang oor die gelykheidswet te veel bloot kwetsende opmerkings tot haatspraak verhef, gaan nie af nie. Vir die een is die k-woord kwetsend, vir die ander haatspraak, en daarom dui die grondwet self ook by die beperking van vryheid van uitdrukking “kwetsend” (intent to cause harm) as so ‘n beperking aan.

Ten slotte: kritici van Nasionale Pers sal ook veel maak daarvan as hulle ontdek dat nie Beeld, Volksblad of Die Burger die DA se standpunt oor die uitspraak gedra het nie. Dene Smuts het die uitspraak as “verkeerd” beskryf. Hierteenoor het die koerante dieselfde hoofartikel gedra waarin met die uitspraak saamgestem word.

Herman Toerien