Subscribe by Email

‘n Besoek aan een van die belangrikste oorblyfsels van die magtige Persiese Ryk

Skrywer en foto’s: Evert Buurman

Reza (Hadjizogloo) laai my en my twee reisgenote vroeg by ons blyplek in Shiraz op vir ‘n besoek aan een van die belangrikste oorblyfsels van die magtige Persiese Ryk, Persepolis.

Ons ry noordoos in die rigting van Pasargadae, deur grasveld en wingerd. Dit is moeilik om te glo dat daar geen wyn meer kom uit hierdie wingerde waar die Shiraz kultivar sy oorsprong gehad het, nie.

‘n Uur of wat later stop ons by die mausoleum van Kores die Grote. Dit is stil en daar is weinig mense. Dit is een van daardie gewyde, oorweldigende oomblikke van my lewe.

Ek staan op hierdie einste selfde plek waar Kores van die Bybel, gestaan het toe hy 2 500 jaar gelede hierdie plek van sy laaste rus vir homself uitgekies het, Kores wie die Jode van die Ou Testament vry gemaak en toegelaat het om terug te keer na Palestina. Ek staan op hierdie einste selfde plek waar Alexander die Grote gestaan het en besluit het om nie ook hierdie manjifieke tombe van een van die groottes in die geskiedenis van die mensdom te verwoes nie. Hierdie struktuur wat ook die oorwinning van Islam in Iran in die 6e eeu oorleef het.

1Die ontwerp van hierdie manjifieke struktuur, die oudste basis-geïsoleerde struktuur in die wêreld, herinner aan ‘n Mesopotamiese ziggurat met ses breë trappe wat lei na die tombe, in die veel ouer Urartu styl, bo-op.

Ons ry terug in die rigting van Shiraz en stop by Naqsh-e-Rostam, daardie antieke nekropolis net 12 kilometers noordwes van Persepolis.

In die rotswand is etlike reliëfs uitgekap, die oudste waarvan terug dateer na 1 000 v.C. Die vier tombes, wat hoog in die rotswand uitgekap is, behoort aan vier Achaemenidiese konings, die bekendste waarvan Darius die Grote. Die fasades van al vier die tombes is in die vorm van kruise uitgekap en staan ook bekend as die Persiese Kruise. Die ingang na elkeen van die tombes is hoog bo die grond, in die middel van elke kruis.

2En dan ry ons na Persepolis, wat letterlik beteken “Stad van die Perse”, die seremoniële hoofstad van die Achaemenidiese Ryk, wat terug dateer na die 6e eeu v.C., met die oorblyfsels van sy Apadana Paleis, Kroon Saal, manjifieke beelde, suile en reliëfs in klip uitgekap. ‘n Sonderlinge ervaring ten spyte van die feit dat Alexander die Grote die meeste daarvan verwoes het.

Met Persepolis reeds in sig merk ek die groepie tente op linkerhand langs die pad op. Reza praat redelik goed Engels en verduidelik dat dit Nomade is wat met hulle vee agter weiveld aantrek. Die nomadiese lewenstyl is nog sterk in swang in Iran en die regering verskaf selfs rondtrekkende onderwysers om te sorg vir die skolastiese opvoeding van Nomadiese kinders.

Reza trek van die pad af en stap na die tente. Hy praat vir ‘n wyle en wuif vir ons om nader te kom. Ons word met groot omhaal verwelkom en word versoek om te sit. Kinders kom nader en bekyk ons versigtig. Ons sit op dik Persiese matte terwyl tee in klein tradisionele glasies voorgesit word.

4Ek vra uit na die matte en Reza verduidelik dat elke mat deur die vrouens en dogters van die groep self met die hand geknoop is, met wol wat van hulle eie bokke afkomstig is en deur hulleself gekleur is met kleursel wat hulle met behulp van eeue oue metodes self maak.

Ek kyk na die een waarop ek en ‘n paar kinders sit en sonder om oorweging te skenk aan die feit dat ek dalk aanstoot mag gee, vra ek of ek dit kan koop. My versoek is blykbaar heel aanneemlik maar Reza beduie dat ek die onderhandeling vir die prys aan hom moet oorlaat. Reza en die mans gaan na buite waar breedvoerig en lank saam gespreek word.

Hy kom uiteindelik terug in die tent en jaag die kinders van “my” mat af. Ek voel half skuldig oor die belaglike prys wat ek vir ‘n dik hand geknoopte wol mat betaal en bedank die manne en die vroue met glimlagte en handgebare en beduie dat dit vir altyd ‘n ere plek in my huis sal hê.

Die mat word opgerol en die kinders volg ons laggend na die Paykan en help my om dit in die kattebak te laai.

Na ek die mat deur die hele Iran rondgedra en met moeite by die huis gekry het, reken Maria dat dit stink. Sy is reg, dit stink na rook en bok drol.

Ek slaan ‘n hele hoop as uit daardie mat en sit dit daarna in die bad en was dit met gewone koue water. Na die “bad” is dit mooier as ooit, ‘n bykans magiese mat met die ongelooflikste helder rooie, oranjes en perse.

Ons katte is gek oor die mat en nou, ‘n paar jaar later, hoop ek dat dit steeds ‘n spesiale plek in Maria se huis inneem, ‘n beeldskone memento van ‘n besonderse dag in my lewe, van ‘n wonderskone en fassinerende land en sy wonderlike mense.