Subscribe by Email

My naam/My name is Ellen Pakkies – amper uitverkoop by KKNK!

Die aangrypende verhaal van Ellen Pakkies, ‘n oënskynlike doodgewone vrou van die arm woonbuurt Lavender Hill buite Kaapstad, wat haar seun Adam, sy het hom Abie genoem, ‘n tik-verslaafde vermoor het. Dié verhaal het wêreldwyd opslae gemaak.

Benewens die beriggewing in media dwarsoor die wêreld, is daar ook twee doktorale proefskrifte oor dié kontroversiële saak geskryf.

Hierdie eg-menslike en roerende verhaal van verslawing, boosheid, liefde, weerloosheid, oorlewing, vergifnis – en uiteindelik hoop, gaan eersdaags realisties in My Naam/Name is Ellen Pakkies op die verhoog uitgebeeld word.

Vinette Ebrahim, wat alombekend is vir haar rol as die moederlike Charmaine Meintjes in 7de Laan, vertolk die rol van Ellen Pakkies in My Naam/Name is Ellen Pakkies.

Haar seun Abie word vertolk deur Christo Davids, wat Errol Pieterse in 7de Laan speel.

Die veteraan-aktrise/regisseur/skrywer Lizz Meiring is die regisseur en teksskrywer.

“Ek het een oggend na ‘n program op die History-kanaal oor die omstrede saak van Ellen Pakkies gekyk en yskoud geword – so erg het dit my ontroer. Ek het toe besluit dat die aangrypende verhaal van hierdie vrou plaaslik op die verhoog vertel moet word,” vertel Lizz.

“Wat dryf ‘n vrou om sover te gaan om haar eie seun, wat ‘n slaaf van tik is, te vermoor? En as dit wel gebeur, hoe vergewe jy jouself?” was ‘n paar van die vrae wat dadelik by Lizz gespook het. Lizz het onmiddellik met Vinette en Christo in aanraking gekom en saam het hulle besluit om persoonlik met Ellen kontak te maak.

Ellen het vir Vinette, Lizz en Christo skriftelike toestemming gegee om haar persoonlike verhaal van pyn, vrees, angs en hel eksklusief op te voer. Lizz verduidelik dat Ellen se verhaal baie sensitief en met deernis, maar ook realisties uitgebeeld word en dat daar uiteraard kru taal en geweld voorkom. Sy stel dit duidelik dat die verhoogproduksie nie ‘n sedepreek of ‘n oppervlakkige traktaatjie teen tik of enige ander dwelm is nie.

“Dit is ‘n eg-menslike verhaal oor ‘n doodgewone ma en haar seun wat in die kloue van dwelms beland. Dit vertel van die liefde van ‘n ma vir haar kind, haar absolute weerloosheid teen die boosheid en hoe sy gedryf is om haar lieflingskind te vermoor.”

Ellen, wat ‘n tuis-verpleegster in Bishop’s Court was, is ‘n gewone, godvresende, eerlike en stil vrou. Sy was in twee huwelike mishandel, maar is uiteindelik getroud met ‘n man wat vir haar goed was. Maar toe begin haar jongste kind, Abie, tik gebruik en die verslawing het hom in ‘n bose dier verander – hy het Ellen aangerand, besteel, gemolesteer en sy was snags te bang om uit haar slaapkamer te gaan.

Ellen het als in haar menslike vermoë gedoen om Abie te ‘red’ van hierdie boosheid en by die polisie tot by maatskaplike werkers aangeklop, maar haar noodkrete het op dowe ore geval. Hy het self geweier om gehelp te word. Een oggend het Abie weer na ‘n nag se oordadige tik-gebruik huistoe gekom en Ellen het hard met hom gepraat en hom gevra hoekom hy vir haar en vir homself so straf.

Abie was nog bedwelmd en het op die bed gaan lê. Ellen het hom toe met ‘n tou verwurg….die deur toegetrek en gaan werk….

Lizz vertel dat daar toe disassosiasie by Ellen ingetree het, maar dat sy haar later die dag aan die polisie oorgegee het. Sy is uiteindelik tot drie jaar gevangenisstraf, opgeskort vir drie jaar, gevonnis. Bykomend is sy ook gevonnis tot drie jaar korrektiewe toesig én 380 ure se gemeenskapsdiens. Lizz meen Ellen se aangrypende verhaal is nie uniek nie.

“Honderde ma’s het getuig hoe tik hul lewens en dié van hul kinders vernietig het. Van hulle het voor die hof geskreeu en betoog dat die owerhede daarvan bewus gemaak moet word van hoe onuithoudbaar hul lewens en die van hul tik-verslaafde kinders is. Maar dit is ‘n universele probleem wat nie net op die Kaapse Vlakte voorkom nie.

“Ouers en gesinne word dwarsoor die wêreld deur hul dwelmverslaafde kinders getraumatiseer, aangerand, besteel, gemolesteer en vernietig en dit kom in alle lae van die samelewing voor. Van hulle is onsigbaar, soos Ellen Pakkies.”

Lizz vertel dat Ellen baie positief is dat haar verhaal ander ouers en tik-verslaafdes kan help en Ellen wil graag ‘n stigting op die been bring om doeltreffende hulp aan die slagoffers en hul gesinne te verleen.

‘n Spesiale vertoning van My Naam is Ellen Pakkies word beplan waarvan die opbrengs aan Ellen se stigting geskenk sal word.

“Ons beoog voorts om met My Naam/Name is Ellen Pakkies te  help met die bewusmaking van die maatskaplike probleem rondom tik en ander dwelmverslawing. Tik (methamphetamine) word beskou as die vinnigste groeiende dwelmmiddel in die wêreld en neem epidemiese proporsies aan, omdat dit maklik vervaardig en verkrygbaar is, goedkoop te koop aangebied word en goedkoop vervaardig word. Die skade is vernietigend. Daar is primêr drie redes hoekom Ellen se storie die hele internasionale samelewing aangegryp het. Dit is uiters ongewoon dat ”n ma van haar kind se dood as”t ware vrygespreek is.  Miljoene mense wat gebuk gaan onder dierbares se dwelmverslawing kan met haar identifiseer. En eindelik is Ellen se lewensverhaal een van oorlewing, liefde, vergifenis en hoop…”

Lizz, Vinette en Christo tree op as vervaardigers en Johan Hendriksz is die Tegniese Regisseur.

KKNK – OUDTSHOORN
4 – 9 APRIL 2011
BESPREEK BY COMPUTICKET
AMPER UITVERKOOP!

BAXTER TEATER KAAPSTAD
12 APRIL TOT 7 MEI 2011
BESPREEK BY COMPUTICKET

CEDERBERG KUNSTEFEES

1 MEI 2011

BESPREEK BY 027 4821090