Subscribe by Email

MultiChoice se besluit ‘n oorwinning vir Suid-Afrika se kinders

Die aankondiging van MutliChoice dat sekskanale nie geïmplementeer gaan word nie is ‘n oorwinning vir Suid-Afrika se kinders, meen dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

“Helpende Hand bedank elkeen van die meer as 47 000 Suid-Afrikaners wat tot op datum opgestaan het en nee gestem het teen pornografie.”

“Die oorwinning wys dat elke Suid-Afrikaner ‘n stem het en kan opstaan teen besluite wat die morele verval in ons land aanmoedig. Suid-Afrikaners is nie bereid om sulke nadelige besluite net gelate te aanvaar nie,” sê dr. Langner.

SA sê nee vir TV pornografie

Helpende Hand is die afgelope drie weke oorval met briewe van gewone Suid-Afrikaners wat vertel hoe pornografie hulle lewens verwoes het. Helpende Hand se navorsingsverslag oor kindermishandeling het bevind dat daar ‘n duidelike verband is tussen pornografie en kindermolestering. Talle maatskaplike werkers het ook vertel van gevalle waar pornografie jong verkragters gekweek het.

“Helpende Hand moedig MultiChoice as toonaangewende maatskappy aan om leiding te neem in die vestiging van morele waardes in ons land,” sê dr. Langner.

Helpende Hand bedank MultiChoice dat hulle Suid-Afrikaners die geleentheid gebied het om deel te wees van hulle navorsing en nie porno-kanale net eensydig geïmplementeer het nie.

“Helpende Hand besef egter dat mededingende maatskappye steeds beplan om pornografie-kanale te implementeer. Ons navorsers is reeds besig met verdere ondersoek en onderneem om die situasie konstant te monitor.”

2 Responses to MultiChoice se besluit ‘n oorwinning vir Suid-Afrika se kinders

  1. Annette

    Maart 16, 2010 at 5:49 am

    As Multichoice ‘n ekstra betaalkanaal wil instel wat bloufilms vertoon, is dit tog die taak van die ouers om nie op die kanaal in te skryf nie?
    Hoe kan die besluit van Multichoice ‘n oorwinning vir die kinders wees, as daar geen videomasjien of CD speler bestaan waar daar nie ‘n beperkingsknoppie op is nie?
    Hoe kan dit ‘n oorwinning vir kinders wees as ouers geen beheer het wat hulle tere ou bloedjies aanvang as hulle by maatjies gaan kuier nie?
    Wil julle my vertel dat ouers wat blou films uitneem of aankoop dit onmiddelik na die kykery in die middel van die nag terugneem, of dit iewers in die die huis wegsteek waar die ou kindertjies dit nie in die hande kan kry nie?

    Weereens het die sodenaamde sedebewakers nie eers die sakie oordink voordat hulle op loop gegaan het nie.

    Die fout lê nie by Multichoice om so ‘n kanaal in te stel nie – dit is tog maar net ‘n produk wat aangebied word, en intekenaars het tog die vrye keuse of hulle ekstra daarvoor wil betaal?

    Ek sal ook nogal graag die navorsing wil sien. Ek laat my nie vertel dat ‘n verkragter of pedofiel ‘n film nodig het om hom/haar tot aksie aan te hits nie.

    Annette

  2. Dawie

    Maart 15, 2010 at 5:10 am

    Ek wonder waar kan mens hierdie “navorsings verslag” te siene kry? Ek betwyfel nie dat pornografie sekere misdade kan aanmoedig nie, en dat pornografie eintlik vir loosers is, maar ek sal graag die verbintenis van pornografie met kindermolestering wil sien.