Subscribe by Email

Motata wil weer na regbank

Die omstrede hooggeregshofregter Nkola Motata, wat op spesiale verlof geplaas is hangende ʼn tugondersoek nadat hy skuldig bevind is aan dronkbestuur, het vandeesweek ʼn hofaansoek ingedien waarin hy versoek dat die hof hom toestemming gee om weer as regter op te tree.

Hofstukke is die week by AfriForum, die minister van justisie en die Regterlike Dienskommissie afgelewer. In sy hofaansoek beweer Motata dat dit onbillik is dat hy van die reg ontneem word om as regter op te tree. Hy versoek die Noord-Gautengse hooggeregshof om ʼn bevel uit te reik waarvolgens hy toegelaat word om weer as regter op te tree.

Motata het meer as twee jaar gelede onder die invloed van drank met sy luukse motor deur Richard Baird se tuinmuur in die noordelike voorstede van Johannesburg gery. Baird het destyds selfoonfoto’s van ʼn sigbaar besope Motata geneem. Motata het rassistiese opmerkings teenoor Baird en ander omstanders gemaak. Die beeldmateriaal is in die verhoor van Motata gebruik en het tot sy skuldigbevinding gelei.

AfriForum sal Motata se hofaansoek teenstaan.