Subscribe by Email

Moorde op polisielede skud Brasilië voor wêreldtoernooi

Meer as 4 100 mense, waarvan byna ‘n 100 lede van die polisie was, is vanjaar reeds in die Brasiliaanse staat Sao Paulo vermoor.

Die vlaag moorde volg na die polisie in Mei ses lede van die PCC-bende in ‘n parkeerterrein verras en doodgeskiet het. ‘n Sewende lid is later in die tronk vermoor, en drie lede van die polisie is op aanklagte van moord gearresteer.

Volgens die polisie wat die klopjag uitgevoer het, het die bende eerste op die polisie geskiet, maar daar is geen bewyse, soos skade aan motors, om te staaf dat die bendelede geskiet het nie.

Dié insident het dadelik tot oor en weer wraakaanvalle gelei, waartydens heelwat polisielede wat van diens af was, op die teregstellinsgwyse vermoor is. In een van die grusaamste gevalle is ‘n polisievrou voor haar elfjarige dogter tereggestel. Veral die armer gedeeltes van die stad Sao Paulo loop deur.

‘n Paar van die oorledenes se kriminele rekords is nagegaan kort voor hulle vermoor is, wat daarop dui dat polisiebeamptes waarskynlik by die moorde betrokke was. In September is ‘n polisieman wat van diens af was deur skutters vanaf ‘n motorfiets doodgeskiet, en drie ure later was sewe burgerlikes in skynbare weerwraakaanvalle dood.

Inwoners dring daarop aan dat die polisie en die PCC samesprekings voer om tot ‘n soort vergelyk te kom.

Kenners wys daarop dat daar voor die insident in Mei ‘n “reël” was dat bendelede nie op polisie sou skiet nie, en dan nie die gevaar sou loop om tydens arrestasie doodgeskiet te word nie.

Die ironie is dat die operasie in Mei juis uitgevoer is as deel van verskerpte polisie-optrede om Brasilië voor die Sokkerwêreldbekertoernooi in 2014 veiliger te maak. Soa Pao lo en nog elf Brasiliaanse stede tree as gashere op.

Die staat Sao Paulo het ‘n bevolking van 40 miljoen, ietwat minder as Suid-Afrika se net meer as 50 miljoen. ‘n Moordkoers van 4 100 in net minder as ‘n jaar is veel laer as Suid-Afrika se ongeveer 16 000 moorde per jaar.

Foto: Polisie op die toneel waar ‘n polisiebeampte vermoor is, AFP

Herman Toerien