Subscribe by Email

Mooi loop, Piet Badenhorst

Vanoggend sien ek oud-minister Piet Badenhorst is oorlede.

Eintlik voel ‘n mens om dit anders uit te druk, iets soos Piet is nou nie meer met ons nie, of Piet het hier klaargemaak.

Want Piet is een van daai mense wat nog lank deur die mense wat hom geken het, onthou sal word – nie as minister nie, maar as mens – mens.

My paadjie het met Piet begin kruis toe hy adjunk-minister van Staatkundige Ontwikkeling was, en ek as senior verhoudingsbeampte vir die Vrystaat aangestel is. Piet was onder meer self vir die verhoudingsaksie verantwoordelik – saam met die groepsgebiedewet! – en ons was ten spyte van ons verspreidheid, ‘n hegte groepie.

Ek was die kind – die baba – in die span. Piet het toe al ‘n lang pad gekom met die hoofverhoudingsbeampte, Danie Nel, en ander hardebaarde in die aksie, Petrus Keyser en Laurie Theron.

Na Piet elders minister geword het, het Petrus wat in Kaapstad gesetel was, eendag nostalgies onthou hoe Piet by die parlement gedros het en saam met hom middagete in sy, Petrus, se kantoor genuttig het. Of anders gestel, Piet het blykbaar Petrus se toebroodjies in sy tas gevind en verslind, maar die geselskap het dit meer as die moeite werd gemaak.

Piet het sy vehoudingsbeamptes almal by die naam geken. En hulle was sy lojale vriende.

Met ‘n saamtrek is die verhoudingsaksie man en muis vir ‘n ete in die deftige ampswoning. Aan ‘n deftige tafel, maar soos ‘n famlie-ete. Die uwe, die junior, het aan die ander punt van die tafel beland, waar Piet se vrou die verste punt van die tafel geselskap gehou het. Sy het ook almal by die naam geken, behalwe vir my.

Kort na my aanstelling, moes ek ‘n verhoudingskonferensie in Bloemfontein reël. Min of meer wat verkeerd kon gaan, het verkeerd gegaan. Die konferensie het die Saterdag plaasgevind, en ek kon Vrydagaand die saal kry om te begin regmaak. Let wel, ‘n saal sonder stoele. Die stoele kry ek elders te lene.

Die Vrydagaand by die Staatsgarage weet niemand van die bakkie wat ek bespreek het nie, en daar is ook nie een beskikbaar nie. Net my bespreking staan mooi in die boek opgeteken. Die baas is by ‘n biduur, en die minister is op pad. Uiteindelik is die baas daar, en ek kry ‘n vragmotor waarvoor ek nie eens amper ‘n liksens het nie, maar kort voor lank is ek dankbaar vir die lorrie, want met die bakkie sou ek te veel keer heen en weer vir die stoele en plante moes ry, met te min tyd.

Donkernag staan die vragmotor onder my afdak getrek, met omtrent net die neus onder dak.

Die res verloop darem min of meer vlot, behalwe dat ek nog in my oorpak was toe die minister opdaag om die toespraak te lewer waarvan ek ook die basiese deel van geskryf het.

Pas die oorpak afgestroop om in my kispak te staan, raak dit duidelik dat die ou Griekwadominee wat die verrigtinge moes open, nie gaan opdaag nie. Sy huis is naby, en ek kry hom aan die tuin natspuit – van die konferensie skoon vergeet. Dis maar sy manier, verduidelik sy vrou verleë.

En so vind die res darem sonder insident plaas.

‘n Ruk hierna laat ek en Joan gebooie loop, en kort na die trouklokke is dit weer ek en Piet. En weer heelwat sweet.

Dit was die dae van strategieë en dinge, en toespraak skryf is nie sommer toespraak skryf nie, en internet was nog net iets waarvan ‘n mens gehoor het. Piet gaan op Wepener optree, en ek skryf die aanvanklike toespraak. Dit kos ‘n rit na Wepener om die inhoud met die mini-GBS uit te klaar. Terug in Bloemfontein met die hoër strukture, en toe op die faks Pretoria toe na die minister se toespraakkomitee.

Toe in spanning wag, want dit moet media toe want g’n media gaan Wepener toe ry vir ‘n toespraak nie.

Maar ook daar is die knoop uiteindelik deurgehaak.

Toe moet ek Piet op die lughawe gaan haal. Hy is die joviale self, en ons ry hotel toe. “Kom kuier bietjie in my kamer,” nooi hy. Daar sluit my baas, oom Pierrie aan, en ook hulle kliek dadelik.

Ek begin pasgetroud-ontrekkings kry, hulle lag, en verskoon my.

Die volgende dag suiker ons saam Suidoos-Vrystaat toe. Ek is op slag sommer myself, en Piet se lyfwag, privaat sekretaris en chauffeur.

“Trap daai pedaal bietjie.” Ek is jonk, en laat my nie twee keer nooi nie. Ons vlieg oor die Vrystaatse vlaktes.

“Is dit nie ‘n spietkop daar voor nie? Stadig jong, anders kry ek weer slae.”

O, die minister het nié vrypas vir spoed nie.

Ons ry stadig. Dis toe nie ‘n spietkop nie, maar die wind is darem nou kwaai uit die seile.

“Hoe lyk die toespraak?” vra ek en vis so bietjie na ‘n kompliment.

“Watter toespraak?”

Nee, Piet het die toespraak, daar iewers in sy tas ingeprop, “maar ek verkies om sommer so uit die vuis te praat.”

Ek ys. Ek sien al hoe staan een lot goed in die koerante oor wat die minister gesê het, en die gehoor het iets geheel anders gehoor. Ek protesteer, maar word in die lug laat hang.

Toe dit toespraaktyd is, praat die minister uit die vuis. Baie aangenamer dinge as dit wat in die toespraak staan. Die gehoor is vas aan sy lippe, hulle drink elke woord in. Ek aanvaar gelate in die wete dat ek my bes gedoen het. Maar toe Piet klaar is, stap hy na die stoel waarop sy aktetas staan, graaf in die tassie en diep daai toespraak op. Die kom lewer hy sommer so gou.

Ons voorlaaste skouerskuur – ek en vroulief is saam by Goudinispa vir die Verhoudingskongres. Dit lol, want ek het “gesondig” om swart en bruin verhoudingsbeamptes aan te stel, en daai oord was toe nog net vir wittes. Maar die oord knyp oë toe – solank my beamptes net uit die swembaddens wegbly.

My beamptes is grootmense en sal darem nie moeilikheid maak nie.

Die aand, aan tafel, kom sit Piet by my en my vrou aan tafel. My mond hang oop van hoeveel van my doen en late hy weet, en van my gedagtes oor die pad vorentoe met die verhoudingsaksie.

‘n Ruk daarna aan gee hy ons, by wyse van spreke, af toe ons minister Heunis in die kantoor moes gaan spreek.

Wat ‘n anti-klimaks.

Maar toe ons uitstap is Piet weer daar om ons moed in te praat.

Dankie Piet…en mooi loop.

Herman Toerien

One Response to Mooi loop, Piet Badenhorst

  1. Catryn

    Februarie 16, 2012 at 11:17 am

    Dankie vir die plasing van hierdie berig, Herman Toerien. Ek moet 300% met jou saamstem.

    Sal ek hierdie man ooit vergeet? Nooit! Piet Badenhorst was ‘n baie spesiale en gesogte mens.

    Ek het vir hierdie man in Kaapstad gewerk in die vroeë 80’s en hy was nie net soos ‘n pa vir my nie, maar ‘n raadgewer, my werkgewer en absoluut ‘n ware heer, ‘n meester met woorde en liefde wat hy na almal uitgestraal het. Hy was ‘n absolute fantastiese gesinsman en ook diep betrokke by sy kiesafdeling. Mense uit sy kiesafdeling kon nie genoeg oor hom praat nie.

    Sy ruim hart was altyd oop vir nog ‘n probleempie wat jy na hom toe kon neem. Daardie hart het nooit opgehou klop nie, maar sy wyshede en raad, leef beslis in my lewe ook voort.

    Hy het nie net ‘n groot en blywende indruk op my gemaak nie, maar hy was vir ‘n geruime tyd my inspirasie, raadgewer en iemand om na op te sien. Hy was ‘n mens wat na jou afgesak het, as jy geval het, en op sy knieë saam jou gebid het, sy hand uitgereik en weer opgehelp het.

    Terwyl ek vir hom gewerk het, het ek hom nooit kwaad gesien nie. En hy was fisies ‘n baie sterk man. Sal eendag nooit vergeet, waar ons ‘n funksie aan huis van Chris Heunis gehad het, waar 3-4 sterk mans hom in die swembad wou gooi. Almal moes maar die aftog blaas. Daardie prentjie onthou ek vandag nog.

    Daar is soveel soete herinneringe aan hierdie persoon, ek het nie regtig genoeg woorde om hom te beskryf nie.

    Aan sy familie en kinders, wil ek vir julle sterkte toewens, my gebede is met julle. Koester sy mooi herinnerings diep in julle harte. Hy was ‘n baie goeie pa vir julle. Ek is bly ek het julle ook leer ken, al was dit nie so goed nie soos wat ek wou gehad het, maar dit was ‘n heel bedrywige tyd in die Kaap.

    Catryn Bosman
    Richardsbaai
    16.2.2012