Subscribe by Email

Moet boere voorberei vir oorlog?

“Dit wil voorkom asof boere geen ander keuse het nie as om hulleself te moet voorberei vir oorlog.”

So sê TLU SA se Adjunk-President en Voorsitter van die Veiligheidskomitee, mnr. Henry Geldenhuys. Mnr. Geldenhuys het gereageer op die moord op die 77-jarige mnr. Johan van Rensburg van die Baltimore-omgewing. “Hierdie moord kom skaars ’n dag nadat die ANC Jeugliga se adjunk-president, Ronald Lamola, in Durban gesê het dat Suid-Afrikaners in ’n illusie leef dat hulle hul grond vreedsaam sal terugkry. ‘Ons het ’n gebeure so kragdadig as ’n oorlog nodig om die land weer in besit van Afrikane te kry’, het Lamola volgens berigte gesê.”

Mnr. Geldenhuys het die moord op mnr. Van Rensburg in verband gebring met Lamola se uitsprake, nadat dit blyk dat hoofsaaklik wapens vermis is. “Waarvoor word wapens gesteel anders as om daarmee nog meer moorde te pleeg? Lamola skep die ideale atmosfeer vir radikale en roekelose jeugdiges om sy uitlatings letterlik op te neem. Boere kan hierdie uitsprake nie langer ignoreer nie en sal ter wille van oorlewing en behoud van hulle grond, insgelyks moet voorberei en organiseer vir die ergste moontlike scenario,” sê mnr. Geldenhuys.

Wyle mnr. Van Rensburg was lid van TLU SA en jare lank by die organisasie betrokke. Sy vrou, Gloudina, is drie keer in die bors raakgeskiet en sy is tans in ’n stabiele toestand in ’n hospitaal in Pietersburg. Hulle is vanoggend omstreeks 04:00 in hulle huis oorval. Dit is nie seker hoeveel terroriste betrokke is nie maar vier spore word tans opgevolg deur lede van die gemeenskap en die polisie, terwyl ’n polisie helikopter asook ’n private helikopter ingespan word om moontlike verdagtes aan te keer.

Mnr. Geldenhuys het namens TLU SA sy meegevoel met mnr. Van Rensburg se familie uitgespreek en mev. Van Rensburg spoedige herstel toegewens. Hy het ook sy waardering uitgespreek teenoor die gemeenskap en die polisie wat flink op die spoor van die moordenaars is. “Indien hulle gevang word moet daar geen genade met hulle betoon word nie, met inagneming van die wetlike voorskrifte,” sê mnr. Geldenhuys.

One Response to Moet boere voorberei vir oorlog?

  1. piesang

    September 13, 2014 at 10:07 am

    Sterkte aan die familie. Het ons boere nasie nog die guts om op te staan teen hierdie mag.