Subscribe by Email

Mistastings oor tweepartybedeling

Hier en daar is partye na afloop van die munisipale verkiesings besig om koalisies te vorm. Ongelukkig lyk die gemak waarmee dit geskied dikwels na opportunisme en eie belang.

Kort na die verkiesingsuitslae begin instroom het, het ‘n euforie losgebars oor die tweepartystelsel wat aan die uitkristalliseer is. Kommentators het dadelik weggespring om op die nadele te wys, maar dit klink of hulle in die wind praat en skryf.

Om die invalshoek – en daar is baie – van Harald Pakendorf te gebruik: In die kiesstelsel wat Suid-Afrika gebruik gebeur dit bykans nooit, Suid-Afrika uitgesluit, dat een party ‘n volstrekte meerderheid behaal nie. Ons stelsel kan nie met dié van die VSA vergelyk word nie, eerder met dié van Europa, waar koalisieregerings aan die orde van die dag is. Kleiner partye hou dikwels die magsbalans en verseker op hierdie manier dat minderheidsbelange en nismark-belange behoorlik verreken word. Dit blyk dikwels ‘n doodhou teen korrupsie te wees. Die lande, anders as Suid-Afrika, is ook op die voorpunt van mediavryheid, en selfopgelegde meningsbeperkings deur die media is seldsaam.

Wanneer partye tot onderhandelings oor koalisievorming toetree, word ‘n behoorlike Kodesa gehou, met die ooreenkoms ‘n lywige beleids- en uitvoeringsdokument. Vergelyk dit byvoorbeeld met die voortdurende oproepe tot die hou van ‘n heronderhandelde Kemptonparkse skikking hier.

Die beste plaaslike voorbeeld herinner ook aan die verloop van die vorige geleentheid toe die DA, in die Morkel-Marais-era, Kaapstad alleen erg chaoties regeer het. Die afgelope, meer suksesvolle era, moes die DA in ‘n koalisie regeer. Koalisies skep ‘n regeer-omgewing waar baantjies vir boeties en ander vorme van korrupsie baie moeiliker kan plaasvind.

Die feit dat Suid-Afrika, anders as die norm, uitkristalliseer dui op gebreke in die gekose grondwetlike bestel. Die soort grondwet wat Suid-Afrika gekies het is in wese vir ‘n homogene land ontwerp. Om te reken op numeriese faktore om magsoorheersing te beperk, was ‘n dobbelspel, en hou eerder die gevaar in dat verkiesings op etniese sensusse uitloop.

Pas het ‘n klein stormpie in die kleine in Nederland uitgebreek oor die regeerrol van die monarg. ‘n Stelsel soos wat Suid-Afrika het, vereis in werklikheid ‘n staatshoof wat wel deel van die regering is, maar met beperkte en deeglik omskrewe regeerfunksies. Hierdie rol word veral in die tydperk na verkiesings deel wanneer koalisies gevorm moet word, en die fasiliteerders aangewys moet word. Tot tyd en wyl ‘n nuwe koalisie gevorm en die regeerakkoord afgehandel en goedgekeur is, moet die land steeds regeer word en dit geskied deur ‘n instaanregering. In die geval van België gebeur dit nou al bitter lank.

België bring egter ook die volgende aan die bod – die waarde van ‘n federale bedeling. Terwyl België op nasionale vlak effektief regeringloos is, gaan Vlaandere en Wallonië gewoon voort om deur hul streekregerings regeer te word. Trouens, Vlaandere floreer hieronder.

Om die VSA as voorbeeld te gebruik om ‘n tweepartybedeling aan te prys, dui op ‘n absolute onkunde oor die VSA se regeerstelsel. In die VSA word bykans almal, van die president tot die sheriff regstreeks verkies. Op min van hierdie vlakke speel die oorhoofse politieke partye ‘n rol. Die VSA is ook ‘n federale bedeling, anders as Suid-Afrika, Verkose verteenwoordigers is boonop nie koukusgebonde nie, wat hier plaaslik die dood in die pot vir ‘n tweepartybedeling beteken. Dit skakel die moontlikheid dat belangegroepe wettig kan optree om minderheidsbelange te laat geld, effektief uit, en skep ‘n teelaarde vir korrupsie waarvan Suid-Afrika oorgenoeg het.

Presies hoe die lobbiestelsel in die VSA die politiek beïnvloed blyk uit die daaglikse nuusbrief van die Christian Coalition of America wat gister uitgereik is. Die CCA het ‘n beleid soos enige Christen-demokratiese party, het 4 miljoen ingeskrewe en opbetaalde lede, maar stel nie self kandidate nie. In hierdie nuusbrief meen die CCA dat die Tea party, nog ‘n magtige lobby, se gunstelingkandidaat, Herman Cain, nog nie gereed vir hoër louere is nie. Die rede wat aangegee word is dat dit uit ‘n TV-onderhoud geblyk het dat Cain volledig onkundig is oor die Palestyns-Israelse kwessie.

Hoe die Republikeinse Party, onder wie se vaandel Cain wil deelneem, self oor hom voel is gewoon nie ter sprake nie.

Die vernaamste nadeel van ‘n tweepartybedeling waar verkose verteenwoordigers koukus-gebonde is, veral waar die twee partye ideologies baie na aan mekaar lê, is dat dit heel waarskynlik is dat meer as die helfte van die kiesers in effek nie vir hul eie oortuigings kan stem nie. Dit verskil slegs in nuanses van ‘n diktatuur van die meerderheid.

Die grootste gevaar dat die huidige bestel heeltemal kan ontaard is naïwiteit, en daarom moet voorspraak vir ‘n tweepartybedeling deurlopend in perspektief gestel word.

Herman Toerien