Subscribe by Email

Misdaadstatistiek: CDP reageer

Die Christen-Demokratiese Party (CDP) is verheug oor die afwaartse neiging in die voorkoms van geweldsmisdaad soos moord en seksuele misdaad, maar is bekommerd dat handelsmisdaad steeds skerp toeneem wat nie goed reflekteer op die vlakke van korrupsie in die land nie,” aldus ds. Theunis Botha, leier van die CDP in sy reaksie op die jongste misdaadstatistiek.

“Byna 16 000 moordgevalle is steeds veels te veel. Slegs tussen een uit tien tot 30 gevalle van verkragting word aangemeld, en daarom kan nie te veel uit die effense daling van dié syfer afgelei word nie.

“Dit is kommerwekkend dat handelsmisdaad oor die afgelope ses jaar van net meer as 50 000 gevalle tot byna 90 000 nou gestyg het. Aangemelde diefstal uit motors dui dikwels op bedrog teenoor versekeringsmaatskappye, terwyl die skerp toenames in dwelmverwante misdaad en dronkbestuur ook op‘n ‘n moreel bankrot gemeenskap dui.

“Dit sou ‘n positiewe boodskap uitstuur indien die topmense wat by korrupsie en wanadministrasie geïmpliseer word die trekpas gekry het. Op die oomblik dok Suid-Afrikaners sowat 20 % meer vir elke item op as wat dit sonder korrupsie sou gekos het. En korrupsie beroof ‘n land van sy toekoms, dit is veral die armes wat die spit afbyt.”