Subscribe by Email

Minister se taalplan onbekook

“Die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, se voorstel oor ‘n verpligte Afrikataal op universiteit, is nie goed deurdink nie,” sê ds. Theunis Botha, leier van die CDP. Die verklaring is gesamentlik deur die partyleier, ds. Theunis Botha, en die woordvoerder vir Onderwys en Grondwetlike aangeleenthede, dr. Christo Landman, uitgeryk.

“Indien die voorstel sou wees dat ‘n Afrikataal verpligtend op laerskoolvlak moes wees, sou dit ‘n ander situasie skep wat ernstig oorweeg kan word. Daar sou egter doodsekerheid oor die motiewe moes bestaan – dat dit nie ‘n politieke stok is nie – en dit sal klokhelder moes wees wat die regering onder ‘n Afrikataal verstaan. Is Afrikaans, ‘n inheemse taal, bv ingesluit of uitgesluit?

“Die voorstel is ook onvanpas teen die agtergrond dat verskeie universiteite besig is om Afrikaans uit te faseer, en die Sentrale Universiteit van Tegnologie byvoorbeeld deur Afriforum by die gelykheidshof verkla is.

“Om ons jeug van kleins af veeltalig vaardig te maak, en respek vir mekaar se kulture en tale aan te leer, is nie ‘n nuwe gedagte nie.

“Hiervoor sal egter behoorlik met belangegroepe in die verskillende taalgemeenskappe oorleg gepleeg moet word om die mees geskikte vlak te bepaal, te kyk watter hulpbronne beskikbaar is, sodat dit met die regte gesindhede van almal beslag kan kry. Soos die minister dit nou aanbied, klink dit te veel na pogings om kulturele

boelie om politieke motiewe te speel.”