Subscribe by Email

Minister Gordhan se regspan berei ‘n reaksie voor op die Valke se dreigement van regstappe

prav9Finansminister Pravin Gordhan sê hy het sy regspan opdrag gegee om ‘n reaksie voor te berei op die dreigement van die polisie se Valke-eenheid om regstappe teen hom te doen. Die eenheid beskuldig hom daarvan dat hy die publiek mislei oor briewe wat hom ‘n spertyd gegee het om vrae te beantwoord oor ‘n beweerde geheime eenheid binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens terwyl hy die kommissaris was. Gordhan sê hy het twee briewe van die Valke ontvang en albei beantwoord.

Die burgerlike organisasie Sanco sê die toenemende spanning tussen Gordhan en die Valke is nie goed vir Suid-Afrika se beeld nie. Sanco sê Suid-Afrika kan dit nie bekostig dat ‘n staatsagentskap koppe stamp met die Finansminister nie. Volgens die organisasie is dit nou ‘n kritieke tydstip waarin die minister gesteun moet word om die ekonomiese omkeerplan deur te voer en te verhoed dat die land se kredietwaardigheid tot rommelstatus afgradeer word.