Subscribe by Email

Metropolitaanse moeilikheid deur Blik Oor

Blik Oor weet nie wat die voordele daarvan is om ‘n munisipaliteit metropolitaanse status te gee nie, maar Blik weet dit laat die belastings en krag opgaan, en die water afgaan.

Want Bloemfontein is nou al weke lank Bloemdroëfontein. Nee, die damme hét water – die Skeerpoortdam is 99 persent vol – maar die vermoë om die water by die mense uit te kry…daar lol dit. En dis nie asof die inwoners vooraf gewaarsku is nie. Mev. Oor het ‘n klomp plantjies persent gekry en Blik het geplant – en nou mag hulle nie natgespuit word nie. Terwyl die dam vol is.

Gelukkig het Blik weens die afwesigheid van reën nog nie die groentesaad wat reeds aangeskaf was, gesaai nie.

Intussen gaan die Blikke se elektrisiteitsrekening net op en op – die vorige maande se betalings word nie aangetoon nie. En probeer dit nou regstel!

Laat dié wat blikore het luister.

Maar nou sien Blik dat die “LUK” vir Sports, Kultuur en ander pret (eintlik is dit van 1994 af veronderstel om LUR’s te wees) adverteer om Kroonstad en Petrus Steyn en straatname in die betrokke munisipaliteite te verander. Blik hou hom nie met politiek op nie, maar Kroonstad was die afgelope paar weke twee keer dae lank sonder krag, en die misipaal is ‘n paar keer krimineel aangekla oor die dinge wat in die drinkwater beland – letterlik.

Sou dit nie beter wees om eers die administrasies van die plekke eers behoorlik op dreef te kry voor die naamsvoorstelle gedoen word nie?

Blik bedoel, destyds toe die goewerment nuwe name vir die Oranje-Vrystaat aangevra het, het iemand “Potholes” voorgestel. Vandag, meen Blik, sou so ‘n voorstel in alle waarskynlikheid geslaag het, want wat is deesdae meer tipiese kenmerke van die Vrystaat as slaggate? Blik oor verneem van ‘n motoris wat ‘n Vrystaatse vlakhaas se blikore by ‘n slaggat sien uitsteek het, en stilgehou het om die haas uit te tel. Toe is dit al die tyd ‘n donkie se blikore wat uitsteek.

Kroonstad maak deel uit van die Moqhka-munisipaliteit. Met die skynbaar permanente rioolproleme, dink Blik die kanse is goed dat iemand ‘n variasie op Moqhka gaan voorstel vir ‘n nuwe dorpsnaam. Die fokus as’t ware van Kroonstad se kroon na die troon verskuif. Of anders gestel, die “Mo” uit die Moqhaka haal.

Oor minder as ‘n maand is dit die 200ste geboorteherdenking van die Oostenryks-Hongaarse komponis, Franz Liszt. Liszt was seker een van die veelsydigste komponiste ooit, al is nog net ‘n fraksie van sy werke opgevoer. Maar, so klink dit, soos iemand wat nou al ‘n saag en selfs ‘n konsertina in ‘n simfonie-orkes ingespan het, kan Bloemfonteiners met ‘n blikoor vir musiek ‘n hele nuwe dimensie aan dié herdenking gee. ‘n Mens gaan so te werk: Jy speel iets bekends van Liszt, soos een van die Liebestraums of ‘n Hongaarse rapsodie oor die haaifaai, en laat ‘n gesinslid by elk van die krane in die huis staan. En dan dirigeer ‘n mens. By die lae note draai ouboet in die badkamer die badkraan oop: “Gô!” By die middelnote draai mevrou die kombuiskraan oop: “Gê!” en by die hoë note draai Sussie die badkamer se wasbakkraan oop: “Gie!”.

As die liewe leser in Bloemdroëfontein woon, gaan probeer dit gerus! Met bietjie vernuf kry ‘n mens Hansie Slim so gespeel: Gie, gie, ga, Gie, gie Gô, ga,gie ga gô. Dis merkwaardig watter geluide ‘n mens uit ‘n kraan kan kry as dit nie water in het nie. Die fyner verstellings kry ‘n mens deur die krane groter en kleiner oop te draai.

Sjoe, en as daar weer water begin inkom, kan ‘n mens Tsjaikovski se 1812-overture baie doeltreffend opvoer: tsje-tsjie- Poef, poef!. Werk amper net so goed as om regte kanonskote in te span.