Subscribe by Email

Nelson Mandela metro tot rampgebied verklaar

Die Churchilldam, een van die damme waaruit water aan Nelson Mandelabaai voorsien word

Die Nelson Mandelabaai-metroraad het die metrogebied (Port Elizabeth, Uitenhage en Despatch) vandeesweek tot ‘n rampgebied verklaar weens die knellende droogte wat die streek in sy greep het.  Na berekening is daar slegs genoeg water vir ‘n paar maande in die opgaardamme oor.  Die gemiddelde damvlak is tans 36%.  Hieruit moet ook nog voorsiening gemaak word vir die toevloei van toeriste tydens die Wêreldsokkerbeker in Julie.

Inwoners staar hoë watertariewe in die gesig as hulle meer as 500 liter water per dag per huishouding gebruik.

Volgens mnr Barry Martin, direkteur van water en sanitasie in die metro, het die daaglikse waterverbruik van 280 megaliter tot 250 megaliter afgeneem.  Intussen gaan sowat 20 megaliter water per dag verlore vanweë lekkasies by skole.  Martin sê ook dat selfs strenger waterbeperkings oorweeg word, wat hoër tariewe insluit en beter polisiëring van die waterverbruik.

Die Burger Oos-Kaap berig dat die rampverklaring slegs ‘n eerste stap is.  Daar moet nog by die provinsiale en nasionale regering aansoek gedoen word om bykomende geld (R1,6 miljard) om die noodmaatreëls toe te pas.

Dit sluit onder meer in die bou van ‘n ontsoutingsaanleg (R750 miljoen), die bespoediging van die Nooitgedacht-pypleiding (R650 miljoen), die sink van boorgate (100 miljoen), die herstel van lekplekke by skole (R50 miljoen) en die nagaan van lekplekke elders (R20 miljoen).

Ontsoutingsaanlegte word oorweeg, mits die nodige toestemming verkry kan word.  Drie strande is reeds as moontlike terreine vir die aanlegte geïdentifiseer.  Dit sal R44 miljoen kos vir een aanleg wat 2 megaliter water per dag ontsout.

One Response to Nelson Mandela metro tot rampgebied verklaar

  1. Paul

    Maart 29, 2010 at 5:33 am

    Ek dink hierdie is maar net nog ‘n voorbeeld van swak bestuur. Ek meen, 20 megaliter water gaan verlore by skole se lekkende krane? Die feit dat dit so handuit geruk het vertel jou boekdele van die toestande in die res van die land.