Subscribe by Email

Menseregtedag

Terwyl Suid-Afrikaners Menseregtedag vier, weet Suid-Afrikaners en die VN amptelik nie wat die stand van menseregte in die land is nie. In ‘n verklaring wys die Afrikanerbond daarop dat Suid-Afrika se jongste verslag hieroor, en in die besonder rassediskriminasie, aan die VN se Komitee vir die Uitwissing van Rassediskriminasie meer as ‘n jaar uitstaande is.
Dit is veral onrusbarend in die lig van die jongste storm oor die regering se skynbare gebrek aan ‘n verbintenis om met rassediskriminasie weg te doen, en in teendeel deur veral arbeidswetgewing hard werk om dit in die wetboek te verstewig. Dit is ook ironies omdat dit vanjaar presies twintig jaar gelede is dat die vorige regering die laaste rassewetgewing uit die bedeling van afsonderlike ontwikkeling, geskrap het.
Menseregte strek veel wyer as net rassediskriminasie, of selfs individuele regte. Hoewel Suid-Afrika ‘n lidland van die Afrikakommissie vir Mense- en Groepregte is, is die fokus van die Suid-Afrikaanse grondwet op individuele regte, of ‘n kollektief van individuele regte, eerder as waar groepe, uitgesonderd rasse- en geslagsgroepe, as groepe oor regte beskik. Waar sulke regte wel verspreid in die grondwet vermeld word, is daar min aansporing om dit te kan uitoefen, soos dié van Artikel 235. Taalkwessies beland ook gereeld voor die howe soos die staat, in die woorde van die AB, van Engels die land se de facto taal maak.
Die Suid-Afrikaanse viering vandag – afgesien van deelname aan die internasionale Menseregtedag op 10 Desember – volg ironies ook kort na die Grondwetlike Hof teen die Suid-Afrikaanse regering oor die lot van die Skerpioene beslis het. Die belang hiervan vir menseregte is dat die Handves van Menseregte as hoofstuk in die grondwet opgeneem is, en as sodanig nog ‘n bo-en-behalwe spesiale status geniet. Eiendomsreg is een van die regte wat so ondervang is, en die land is kort-kort in rep en roer oor regeringsplanne om hieraan te torring. Suid-Afrika is ook een van die min lande wat mediavryheid pertinent naas die reg op uitdrukking in die handves erken, en ook hier is die regering gereeld onder skoot.
Hoewel Suid-Afrika voor 1994 nie werklik ‘n geskrewe Handves van Menseregte gehad het nie, het die land via die gewoontereg, Administratiewe Reg, presedentereg en konvensie ‘n wye spektrum sulke regte opgeneem. ‘n Belangrike rede waarom hierdie beginsel minder aksente gekry het as wat dit verdien het, was ‘n wye opvatting dat so ‘n handves teen die Christelike godsdiens sou indruis, waar God sy Liefdesgebod, ook teen die naaste en selfs vyande, gestel het, terwyl ‘n Handves met die humanisme en liberalisme geassosieer word. Hierdie soort kritiek is nie heeltemal merieteloos nie, soos dat Christelike kerke steeds die kop skud oor hoe moordenaars en verkragters van die doodstraf gevrywaar kan word, terwyl ongebore babas die produk van aborsies op aanvraag kan word, en die baba se indringing in die moeder se privaatheid as genoegsame rede hiervoor geag word.
Die wêreldaandag is te midde van die aardbewing en tsunami in Japan, en Maummar Ghaddafi se optrede ook teen burgerlikes nou baie gefokus op die lot van mense. Terwyl Afrika weer ‘n sagte-handjies-benadering teenoor Ghaddafi vra – soos die kontinent se leiers dikwels vir ook ander despote vra – stel van alle plekke, Jemen, se minister van Menseregte ‘n voorbeeld. Hierdie minister het bedank en uit die regerende party bedank nadat 50 betogers in Jemen vanaf dakke doodgeskiet is. Die regering ontken aandadigheid aan die skietery.
Menseregte kan uiteraard nooit absoluut wees nie, en word om verskeie redes beperk, onder meer omdat my regte, soos byvoorbeeld die reg op vrye mening, stuit teen ‘n ander se reg op waardigheid. As bewegingsvryheid onbeperk was, sou dit chaos afgegee het, met nie net ‘n ongewenste buurman wat na willekeur deur my huis loop nie, maar ook mense wat tot tronkstraf gevonnis is omdat hulle ander se lewe en eiendom nie respekteer nie.
Lande soos Duitsland, veral die regerende CDU, fokus dus sterker op die groepregte, en spits individuele regte eerder af op ontwikkeling en verantwoordelikheid. Regte plaas ‘n verantwoordelikheid in die bekleër se hande. – Herman Toerien