Subscribe by Email

Meer genormaliseerde demokrasie in Venezuela?

Gaan ‘n hofuitspraak van die Inter-Amerikaanse Hof vir Menseregte die omstrede linkse pres. Hugo Chavez van Venezuela se knyptang op vryheid stuit?
Dié hof het pas beslis dat die diskwalifikasie van die oud-burgemeester van die hoofstad Caracas, Leopoldo López en nou opposisieleier om aan aanstaande jaar se presidentsverkiesing te staan, onregmatig was. López is amptelik gediskwalifiseer omdat daar bewerings oor korrupsie teen hom gemaak word, terwyl die regering die hof van pro-Amerikaanse partydigheid beskuldig.
Dié uitspraak bind tegnies die lidstate van die Organisasie van Amerikaanse State (OAS) maar die aanduidings is nie positief nie. Chaves het die uitspraak as minder werd as haarsny beskryf, ‘n sinspeling op die Spaanse woord wat “hof” en “haarkap” beteken.
Chavez, wat vir kanker behandel word, het sedert hy 12 jaar gelede aan bewind gekom het, sy land links gestuur en ‘n troue bondgenoot van Kuba geword. Veral privaat radiostasies is in stasies omskep wat regeringspropaganda uitsaai. Venezuela beklee die 133ste posisie op die persvryheidsindeks en sy posisie daal. In 2002 was die plasing nog 77ste.
Veral die ANC Jeugliga steek graag by Chavez kers op oor hoe sake gedoen moet word.