Subscribe by Email

Meer as ʼn kilometer se petisierolle op Uniegebou se grasperk uitgerol

AfriForum het vandag ses petisierolle wat ʼn totale lengte van meer as ʼn kilometer beslaan op die staatspresident se grasperk voor die Uniegebou uitrol. Die petisierolle, wat gesamentlik meer as 50 kg weeg, bestaan uit die name van meer as 10 000 landsburgers wat beswaar teen die voorgestelde Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting op die webblad, www.thebillstopshere.co.za, aangeteken het.

Die petisie is in Desember van stapel gestuur en meer as 10 000 mense het binne die bestek van 48 uur hulle protes aangeteken. Die webblad is intussen gesluit.

“Tot dusver is die publiek se besware teen die wetsontwerp botweg geïgnoreer. Met hierdie aksie het ons op ʼn visuele manier vir die president uitgebeeld hoe sterk die publiek teen die wetsontwerp gekant is,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Ten spyte van die publiek se protes het die ANC verlede jaar voortgegaan om die wetsontwerp verlede jaar deur die nasionale vergadering te stoomroller. Die dokument moet nog deur die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur word, waarna die staatspresident dit moet onderteken. Die petisie is daarop gerig om die staatspresident te versoek om die dokument nie te onderteken nie.

Roets het bygevoeg dat die toegewings wat tot dusver deur die ANC gemaak is nie voldoende is om die publiek se kommer aan te spreek nie.