Subscribe by Email

Media is demokrasie in aksie

Sicelo Shiceka

Sicelo Shiceka

Die publisiteit wat die ANC op die vooraand van die landswye plaaslike regeringsverkiesing kry, sou in bykans enige land met ‘n sweempie demokrasie katastrofaal wees.
Trouens, die omvang van negatiewe publisiteit – waarvoor die skuld op die media in plaas van die nuus- en selfs skandemakers geplaas word, is so omvangryk dat daar nie ruimte vir verbandhoudende verdoemende nuus is nie.
Een belangrike tentakel wat nou misgekyk word, is die impak van die regering se kader-ontplooiingsbeleid, en waar vasgebrand word, hersirkulering van gediskrediteerde kaders. Die hoeksteen van hierdie beleid op plaaslike regeringsvlak is minister Sicelo Shiceka se ontplooiingskomitee.
Aan die hoof van dié komitee staan iemand wat min of meer net so ‘n kleurryke geskiedenis as die minister het: George Seitisho. Hoewel Seitisho se geskiedenis nie so maklik is om na te spoor nie omdat sy van nie altyd dieselfde gespel is nie, was hy by verskeie geleenthede in ongure omstandighede is die nuus – eers in Bronkhorspruit en daarna as munisipale bestuurder van Bitou by Plettenbergbaai waar hy van aanvang tot ontslag onvleiende nuusdekking gekry het.
Terwyl die ANC die Wes-Kaap beheer het, was Seitisho egter in sy party so hoog aangeslaan dat hy ook as administrateur vir twee ander sukkelende munisipalieite aangestel is, waaronder dié van Kannaland, wat destyds daarin geslaag het om Kammaland se manewales na die kroon te steek.
Een van die komitee ontplooides, Kenny Leluma wat as waarnemende munisipale bestuurder in Ventersdorp aangestel is, het braaf verklaar dat die minister hom aangestel het, en dat navrae aan die minister gerig kan word.
Leluma was in daardie stadium in die nuus weens buitensporige verkwisting, en betalings aan ‘n ministeriële taakspan wat die minister in ‘n geskrewe antwoord in die parlement ontken het bestaan. Shiceka het toe ook ontken dat hy Leluma aangestel het.
Word Leluma se geskiedenis nagegaan, is dit ook kleurryk – hy het ook sy draai deur Bitou gemaak waar hy onder verdagte omstandighede politieke adviseur was. Hy het egter die eerste keer in Qwaqwa die nuus gehaal, waar hy met die kous oor die kop weggestuur is.
Die lysie omstrede herontplooiings is egter ellelank. Onder die vreemdes tel onder meer die afgedankte bestuurder van ‘n provinsiale hoofstad wat as administrateur in ‘n munisipaliteit in Noordwes aangestel is terwyl hy vir onder meer rampokkery verhoor word. ‘n Ander sukkelende Vrystaatse munisipaliteit se bestuurder, teen wie ‘n verhoor aangelê is, het munisipale bestuurder van groter munisipaliteit in Noordwes geword. Die verhoor is met sy bedanking by sy vorige werkgewer afgestel, en die nuwe werkgewer het sy aanstelling gemotiveer deur aan te voer daar is geen dissiplinêre of ander sake teen hom nie.
Hierdie tentakels strek al etlike jare terug. Die inligting is ook nie geheim nie – alles was in die media en sommige media het groot gewag hiervan gemaak. Dit is onmoontlik dat die regering hieroor in die duister kan wees. As eerder destyds op die nare media se onthullings ag geslaan is, sou veel van die eier in die gesig kort voor die verkiesing nie nodig gewees het nie.
Teen hierdie agtergrond is dit pikant dat president Zuma verwag die minister moet eers antwoord op die aantygings voor opgetree word – verwysend na die oortjies van die seekoei wat nou bokant die water verskyn het.
Die twee polisiemanne wat in ‘n onderonsie met Comrade Winnie en haar lyfwagte betrokke was, het nié dié voorreg gehad nie. Hulle is geskors.
Die bekende Vlaams-Belgiese politikus, Ysves Leterme, het by geleentheid na die media as die vierde been van demokrasie verwys. Wat Suid-Afrika nou sien, is demokrasie in aksie.
Die media moet nie gering geskat word nie. By geleentheid het ‘n sterk land se regering huursoldate ingespan om ‘n staatsgreep op ‘n vakansie-eiland uit te voer. Die huursoldate het hulle egter in buitelandse soldate wat daar ontplooi was vasgeloop, en moes druipstert ontvlug. Die betrokke regering se veiligheidsdiens was onbewus van die buitelandse soldate se teenwoordigheid – terwyl dit al verskeie kere in daardie land se koerante berig was.