Subscribe by Email

Mattel se Barbie-poppe verkope afgeneem

barbie

Die speelgoedmaatskappy Mattel se kwartaalwins is swakker as verwag nadat verkope van sy Barbie-poppe en Fisher-Price-speelgoed geval het.

Mattel se wins vir die drie maande tot einde September het met 22% tot $331.8miljoen afgeneem. Dit is sowat 97c per aandeel.  Ontleders het $1.02 per aandeel verwag, volgens die gemiddelde van 12 ramings opgestel deur Bloomberg.

Die maatskappy sukkel toenemend om meer van sy produkte te verkoop omdat kinders al hoe meer tyd op elektroniese toestelle bestee.

Verkope het vir die vierde opeenvolgende kwartaal afgeneem.  Wêreldwye verkope van Barbies en Fisher-Price-speelgoed het onderskeidelik met 21% en 16% geval.  Die maatskappy het ook 7% minder American Girl-poppe verkoop.

Mattel moet ook sy lisensie vir Walt Disney se Frozen-poppe in 2016 aan sy mededinger, Hasbro, afstaan, wat hom onder verdere druk gaan sit.

Mattel se aandeelprys het ná die aankondiging met 4% tot $29.31 per aandeel geval.  Dit het vanjaar, voor Donderdag se daling, reeds met 36% geval.

Inkomste het met 8.6% tot $2.02miljard gedaal.  Ontleders se verwagtinge was $2.17 miljard.

Mattel se winsgewendheid hou ook aan om te verswak.  Sy bruto winsmarge het van 53.8% tot 50.5% afgeneem.  Dit is die derde opeenvolgende kwartaal dat sy winsmarge daal.

Mattel se Barbie is nie meer so gewild soos wat dit was nie – haar onrealistiese liggaamsvorm is al lank ‘n steen des aanstoots onder ouers wat reken dit dra by tot eetstoornisse.