Subscribe by Email

Matie se verhandeling ontleed perspektiewe oor grondhervorming

Verskillende groepe het nie net verskillende perspektiewe oor grondhervorming nie, maar ook oor hoe die oppergesag van die reg en transformasie binne ‘n demokrasie uitgeleef moet word. “Hierdie fundamenteel kontrasterende menings ten opsigte van hierdie sleutelelemente van demokrasie, illustreer dat Suid-Afrikaners uiteenlopende menings oor demokrasie het in die vorm van ondersteuning van hetsy die liberale- of bevrydingsmodelle van demokrasie. Hierdie modelle is as twee duidelike en afsonderlike interpretasies van demokrasie voorgestel en beskryf. Hierdie twee modelle verteenwoordig skerp uiteenlopende normatiewe beskouinge oor demokrasie, en bied daarmee saam,

botsende beleidsvoorskrifte aan vir demokratiese konsolidering, insluitende beleid oor grondhervorming,’ skryf die Matie, Charl Swart in die opsomming van sy meestersverhandeling in Politieke Wetenskap. Hy het die graad verlede jaar onder die titel, Public Opinion on land reform in South Africa, verwerf.

Om tot sy gevolgtrekkings te kom het Swart die data van verskeie meningspeilings ontleed. Hoewel hy deurgaans die liberale en die bevrydingsmodelle van demokrasie teen mekaar meet, verreken hy ook hoe persepsies deur kultuur, historiese perspektiewe, die invloed van arbeidswetgewing op die landbou, die institusionalisering van segregasie, die stigting van die ANC en ander faktore die perspektiewe beïnvloed.

Die verskille in perspektiewe blyk onder meer uit die antwoorde p die stelling: “Blankes besit grond wat hulle van swart mense gesteel het.” Terwyl Afrikaans- en Engelssprekendes meestal skerp hiervan verskil, stem die meeste swarttaal sprekers hiermee saam. Trouens, bitter min verskil hiervan. Onder die Zoeloesprekendes, stem 51 persent baie sterk saam met die stelling, en meer as 30 % stem saam. Onder Afrikaanssprekendes stem 8,2 sterk saam, en net 13,5 stem saam. Die syfers vir Engelssprekendes is 18,2 wat saamstem en 9,5 % wat baie sterk saamstem. Die impak van die post-1994 werklikheidsvoorstellings blyk daaruit dat meer Afrikaans- en Engelssprekendes in 2007 dié menings oor gronddiefstal toegedaan was as in 2004 toe die vorige opname gedoen is.

Hoewel dit nie so bedoel is nie, werp die studie ook lig op die verskillende perspektiewe wat mense oor die Malema-haatspraakverhoor koester, asook aanduidings dat die ANC, en veral die jeugliga, nie die nodige begrip het vir gevestigde begrippe rondom demokrasie nie; elemente soos regeer in algemene belang, die oppergesag van die grondwet en die beskerming van minderheidsregte, en die grondwetlike implikasies van die skikkingsproses wat die huidige bedeling voorafgegaan het.

Herman Toerien