Subscribe by Email

Massamoordenaar gaan glo vandag skuld beken

Jared Loughner, die man wat 5 mense doodgeskiet en 13, onder meer die Amerikaanse kongreslid, Gabrielle Giffords, gewond het gaan volgens aanduidings vandag skuldig pleit, berig die Christian Science Monitor.

Hy het na berig word ‘n pleitooreenkoms aangegaan wat hom lewenslank agter tralies gaan hou.

‘n Psigiater sal eers vandag getuig dat Loughner geestelik geskik is om ‘n pleitooreenkoms aan te gaan, waarna hy ingevolge die pleitooreenkoms skuldig sal pleit. Die regter sal hom dan ondervra voor die saak uitgestel word sodat vonnis later gevel kan word.

Loughner het ‘n jaar en half gelede in Arizona op ‘n groep mense losgebrand wat Griffords omring het. Hy het in Maart 2011 onskuldig gepleit op altesaam 49 aanklagte.

Loughner is as skisofreen gediagnoseer en voorheen is beslis dat hy nie geskik is om tereg te staan nie.

Die verwikkelinge volg slegs enkele dae na ‘n lid van ‘n rassistiese Punk-groep, Wade Michael Page, ses mense by ‘n Sikhtempel in Wisconsin doodgeskiet het. Page is in ‘n skietgeveg met die polisie dood.

Intussen gons Amerikaners nog oor die voorval waarin James Holmes na bewering op bioskoopgangers tydens die bekendstelling van die jongste Batmanfliek in Colorado losgebrand het.

Foto: Chris Morrison/Bill Robles/AP

Herman Toerien