Subscribe by Email

Manyi nie bevoeg om op die Media Ontwikkelings- en Diversiteitsagentskap te dien nie

“Die Vryheidsfront Plus vind dit kommerwekkend dat Jimmy Manyi deur president Zuma in die direksie van die Media Ontwikkelings- en Diversiteitsagentskap (MODA/ MDDA) aangestel is. Manyi is bekend vir sy rassistiese lewensbeskouing jeens minderhede en was verantwoordelik vir die skep van rassepolarisasie deur middel van sy voorgestelde arbeidsbeleid tydens sy termyn as direkteur-generaal van die department van arbeid”, het adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor kommunikasie, gesê. “Daarbenewens is daar ‘n gedurige konflik van belange tussen die regeringsposisies wat hy beklee en sy persoonlike sake, om nie eens te praat van sy poging om die Noorweegse ambassadeur te beïnvloed om betrokke te raak in swart ekonomiese bemagtigingstransaksies, waarvoor hy uiteindelik as direkteur-generaal van die department van arbeid geskors is. Hierdie agtergrond maak hom geheel en al onbevoeg om te dien op die direksie van MODA”, het Alberts verder verduidelik. “Direksielede op die Agentskap moet onafhanklik en onpartydig optree en gegewe Manyi se verlede en sy huidige pos as regeringswoordvoerder is dit onmoontlik dat hy aan daardie vereistes voldoen. Daarom doen ons ‘n beroep op die president om die aanstelling terug te trek.”

Die VF Plus het in April 2011 Manyi by die Staatsdienskommissie verkla om ‘n moontlike konflik van belange te ondersoek en om vas te stel of hy al sy belange verklaar het. Die Staatsdienskommissie is tans besig met die ondersoek.

Die VF Plus het nog altyd volgehou dat Manyi nie geskik is om enige openbare pos te beklee nie.