Subscribe by Email

Mandela se 94ste verjaarsdag

Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, het vandag namens die party oudpresident Nelson Mandela met sy vier-en-negentigste verjaarsdag gelukgewens.

Mulder het daarop gewys dat Mandela self gewaarsku het dat hy nie as ’n soort heilige uitgebeeld moet word nie. Hy het eerder sy eie menslikheid en feilbaarheid beklemtoon.

As jongman het mnr. Mandela dit gestel dat hy teen wit dominasie veg en net so teen swart dominasie. Hiervoor het hy hom beywer. Sy regeringstydperk is dan ook gekenmerk deur sy persoonlike pogings tot versoening tussen almal in Suid-Afrika. Dit bly sy groot bydrae. Op die huidige tydstip verkondig die ANC hierdie standpunte wanneer dit hulle pas, soos vandag, maar laat toe dat sommige ANC jeug- en ander -leiers die teenoorgestelde doen sonder teregwysing.

Mag die herdenking van mnr. Mandela se verjaarsdag maak dat ons weer na sy standpunte oor harmonie en samewerking in hierdie land sal kyk en nie net daaroor sal praat nie, maar ook daadwerklik iets daaraan sal doen.