Subscribe by Email

Man sterf in Italiaanse aardbewing en yskoue aardbewings

Enkele dae na ‘n Italiaanse hof ses seismoloë tronk toe gestuur het omdat hulle nie ‘n verwoestende aardbewing voorspel het wat L’Aquilla in 2009 getref en meer as 300 mense dood gelaat het nie, is Italië weer deur ‘n redelike sterk aardbewing geskud. Dié aardbewing van magnitude 5,3 het sowat 6 kilometer suidoos van Mormanno in die suide van die land voorgekom. Een man is aan ‘n hartaanval dood weens die skok, en heelwat geboue is beskadig. Paniekbevange mense het die strate ingevaar. Onder die geboue wat ontruim moes word is ‘n hospitaal.
Die omvang van die skade moet nog bepaal word.
Die episentrum was slegs 3,8 kilometer onder die oppervlak, wat beteken dié skudding kon heelwat skade aangerig het.
Mormanno word gemiddeld elke 50 jaar deur ‘n sterk aardbewing geskud.
Italië en Griekeland beleef nou betreklik gereeld aardbewings. Aardbewings van dié sterkte het die afgelope paar jaar dood en verwoesting in Spanje, Italië en Turkye gesaai – deels weens ou, verswakte bouwerk, maar ook omdat dit dikwels baie vlak onder die oppervlak ontstaan.
Die interessantste voorkoms van aardbewings die afgelope week is redelike sterk aardbewings naby die Noordpoolsirkel. Eers het ‘n aardbewing van M5,7 Ysland geskud, en toe een van M 4,5 die verre noordooste van Kanada. Hierna het ‘n skudding van M 4,6 die verre suidpunt van Groenland geskud.
Van dié aardbewings was slegs die skudding in Ysland op of naby die grens tussen twee tektoniese plate waaruit die aardkors saamgestel is. Dit is dieselfde stelsel wat Ysland se periodieke vulkaniese uitbarstings en warmwaterbronne veroorsaak.
Groenland word nou gereeld deur talle ligte skuddings gekenmerk wat op meetinstrumente registreer, maar hou meestal verband met die smeltende ys by die noordpool. Die jongste skudding is egter ‘n werklike aardbewing.
Ook die Suidpoolgebied ondervind nou gereelde aardbewings. Die jongstes, beide M5,2, het weerskante die yskontinent voorgekom, waar die stelsel wat Oos- en Wes-Antarktika skei, die grens van die Antarktiese tektoniese plaat ontmoet.
Japan word die afgelope paar weke deurlopend deur aardbewings van net minder as M 6 – dus ongeveer so sterk soos die skudding wat Tulbach en ander Bolandse dorpe erg beskadig het – geskud.