Subscribe by Email

Mammoet-gravure heropen dalk debat oor eerste menslike besetting in Amerika

Die ontdekking van ‘n versteende been met ‘n gravure van ‘n mammoet of mastodon op, is nie net die oudste van sy soort op die Amerikaanse vasteland nie, maar prikkel opnuut die debat oor wie die eerste, en wanneer, na die Amerika’s gekom het.
Die gravure is minstens 13 000 jaar oud, aangesien dit is hoe lank gelede die laaste mammoete op die Amerikaanse kontinent verdwyn het. Dié gravure is in Florida ontdek, baie ver van die punt – die Beringsee, waarlangs die kontinent se oorspronklike bewoners uit Siberië gekom het. Tydens die ystydperk van 30 000 tot 10 000 jaar gelede was daar ‘n landbrug.
Die mees betroubare argeologiese gegewens oor die eerste inwoners dateer sowat 10 000 jaar terug. Daar is egter aansprake van veel ouer bewoning, soos die Clovis-kultuur wat met radio-datering tot ongeveer 13 000 jaar teruggevoer word, en reeds baie verspreid in dele van Amerika was.
Die skedel van ‘n vrou met Australies-aboriginekenmerke wat in Brasilië gevind is, is glo tussen 9 000 en 12 000 jaar oud, maar ander oorblyfsels van menslike verblyf op die terrein dateer blykbaar 50 000 jaar terug. Verskeie bronne aanvaar nou dat ‘n groep wat aan die Australiese aborigines verwant was, die Amerikas minstens saam, maar dalk voor die meer algemene Mongoloïde-voorouers bereik het.
Antieke werktuie wat uit sekere eras dateer, en wat meer gemeenskaplike kenmerke met Europese kultuur in die ooreenstemmende tydperke toon as met die kulture uit Siberië afkomstig, het ook tot ‘n reeks gedagtes aanleiding gegee. Ook nou met die jongste vonds, met die ooreenkomste uit voorbeelde wat in Europa gevind is, word vrae oor antieke Transatlantiese kontak gevra. Al hierdie soort bespiegelings loop hulle egter voor die voet in skerp kritiek vas. (Die gedagte is dat mense die noordelike Atlantiese oseaan op ysplate sou kon oorsteek).
Die jongste ontdekking doen min om kontroversie te verminder. Die bevindings is na lang en omvattende ondersoeke in die Journal of Archaeological Science gepubliseer. Elke denkbare soort ondersoek is gedoen om die outentiekheid vas te stel.
Dié toetse is ook nie om dowe neute gedoen nie. In die 19de eeu was vervalsings wat mammoete uitgebeeld het volop – iets wat nog steeds nie behoorlik verklaar kon word nie.
Herman Toerien