Subscribe by Email

Malema voor Menseregtekommissie

Die Suid-Afrikaanse Menseregte Kommissie se verhoor van mnr Julius Malema vind vandag en môre in Braamfontein plaas. Die verhoor volg op 3 klagtes oor haatspraak deur die Afrikanerbond en nog nagenoeg 500 ander klagtes wat by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien is.

Die vorige datum vir die verhoor was 13 & 14 Oktober 2011 maar is op versoek van mnr Malema se regsverteenwoordigers uitgestel aangesien die ANC se dissiplinêre verhoor teen mnr Malema hangend was.

Agtergrond

Op 10 Maart 2010 het die Afrikanerbond ʼn eerste klagte by die Suid-Afrikaanse Mensregtekommissie ingedien nadat daar in die media gerapporteer oor die “dubulu iBhunu” – “Skiet die boer” uitsprake deur mnr Julius Malema, president van die ANC Jeugliga (ANCYL). Die “struggle” lied is op Dinsdag 9 Maart 2010 aan die Universiteit van Johannesburg se Doornfontein kampus gesing.

Volgens verskeie berigte in die media het mnr Malema weer hierdie lied gesing by ‘n openbare vergadering in Mafikeng op 22 Maart 2010. Dit is gevolg deur ‘n uiters rassistiese aanval op wit joernaliste. Gevolglik het die Afrikanerbond weer ʼn klagte ingedien op 23 Maart 2010.

Op 13 April 2010 het die Afrikanerbond ʼn derde klagte ingedien na mnr Malema se tirade teen die BBC korrespondent, Mnr Jona Fisher en die media op 8 April 2010.

Al bogenoemde klagtes het verwys na haatspraak en aanhitsing. Tot dusver is 510 klagtes by die MRK ingedien deur organisasies wat georganiseerde landbou en politieke partye insluit. Die Afrikanerbond sal tydens die verhoor van die mensregtekommissie ʼn voorlegging maak wat deur die voorsitter van die Afrikanerbond, mnr Pieter Vorster, hanteer sal word.

Die Afrikanerbond se standpunt:
Die Afrikanerbond se uitgangspunt met al ons klagtes dat die Handves van Regte, soos vervat in die Suid-Afrikaanse grondwet ‘n hoeksteen is van die demokrasie in Suid-Afrika. Die handves verskans die regte van alle mense in ons land en bevestig die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Daarom is ons verwagting van die Menseregtekommissie dat hulle sal optree teen elke skending van die Handves van Menseregte, maar spesifiek die skendings van menseregte deur mnr. Malema.

Die uitsprake is diep verdelend vir die Suid-Afrikaanse samelewing sowel as ʼn ondermyning van die grondwetlike waardes waaronder ʼn nie-rassige samelewing en die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Hierdeur word die soeke na ʼn nasionale eenheid ongedaan gemaak. Indien Suid-Afrika wil aanspraak maak op ʼn nie-rassige demokrasie sal daar ernstig besin moet word oor die openbare uitsprake wat deur openbare verteenwoordigers gemaak is en die voortdurende skending van menseregte. Ons is van mening dat die toename in rassistiese ondertone, haatspraak en opruiende rasgebaseerde uitsprake, deur ʼn streng beslissing van die Suid-Afrikaanse Mensregtekommissie beperk sal word.

“dubulu ibhunu” – Skiet die Boer is op 10 September 2011 in ʼn uitspraak deur die Gelykheidshof as haatspraak verklaar en moet gesien word teen die agtergrond van al die openbare standpunte en uitsprake deur mnr Julius Malema. Indien mnr Julius Malema se uitsprake sedert 2009 gelees word in samehang met dubulu ibhunu “-“Skiet die Boer” dan word dit duidelik dat mnr Malema ‘n diep gewortelde haat en vooroordeel teen minderhede in die algemeen en teen wit mense in die besonder openbaar. Sy onlangse kru uitlating oor die Indiër gemeenskap demonstreer die punt verder.

Dit is nou nodig vir ʼn Suid-Afrika sonder haatspraak en opruiende gedrag. Alhoewel die ANC tydelik ontslae is van mnr Malema is die minderhede nog opgesaal met die uitsprake wat mnr Malema gemaak het in sy bevordering van die Nasionale Demokratiese Revolusie. Daarom hoop ons werklik dat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie na sy verhoor van mnr Julius Malema op 28 en 29 November 2011 ʼn ondubbelsinnige en sterk uitspraak ten gunste van die nie-rassige waardes sal maak. Dit sal die SA Grondwet bo ideologie stel en kan die aanhef van die SA Grondwet naamlik dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid volkome tot sy reg kom. Suid-Afrika behoort inderdaad aan almal, ook minderhede, en is dit nie vir mnr Malema of enige ander persoon om die werklikheid te ontken met opruiende praatjies nie.

2 Responses to Malema voor Menseregtekommissie

  1. Herman

    November 30, 2011 at 7:31 am

    Ek is nie al persoon wat items op http://www.koerant.co.za plaas nie, maar wanneer ek oor plasing beoordeel neem ek in ag of die item in Afrikaans is (ek is nie bereid om instansies waarby ek nie betrokke is nie se verklarings te vertaal nie), en natuurlik dat die instansie nie geweld aanstig nie.
    Voorts moet die inhoud ook nuuswaardig wees, en nie op ‘n herhaling neerkom van ‘n ander bron wat reeds opgeneem is nie.
    In die proses word items geplaas van die Volkstaatraad tot die FW de Klerkstigting.
    Dit beteken egter ook dat veral politieke partye wat wel in Afrikaans uitreik, soos die VF + en die CDP benadeel word, omdat hulle te ene maal kleiner is as die DA wat nie op nasionale vlak verklarings in Afrikaans uitreik nie, en daar skynbaar ook nie ondersteuners is wat ‘n seleksie van die verklarings wil vertaal vir opname nie. Om darem ‘n mate van balans te handhaaf word slegs ‘n fraksie van die VF+ en CDP se verklarings gebruik.
    Wat die AB betref: Ek is nie self ‘n lid nie. Ek kom egter uit ‘n familie waar baie mense wel lid was en is, en vir die meeste van hulle het ek slegs die hoogste agting gehad vir diegene wat reeds oorlede is, en het die hoogste agting vir diegene wat nog leef.
    Uit my eie waarneming, en sonder konkrete bewyse, wil dit vir my voorkom of daar mense was wat veral op plaaslike vlak wel deur lede geknyp is, en ek dra kennis van mense wat met erge wrokke teen die AB rondloop, waaronder ‘n koerantredakteur wat vas glo die AB het haar oorlede pa op ‘n plattelandse dorp erg te na gekom. Ek kon egter nooit spore kry dat dit gesanksioneerde optrede was nie.
    Self het ek ‘n paar rillers beleef. Jare gelede, pas na ek ‘n stuk korrupsie met ‘n drukkerskontrak gefnuik het, het my destydse streekhoof my blatant gewaarsku dat die AB my gaan “kry.” Ek het verneem hy het self kort tevore lid geword (en toe ‘n paar range bevordering gespring). Ek was ontsteld en het onderweg huis toe by my ouma in ‘n ouetehuis aangegaan, waar haar broer, ‘n bekende nyweraar, toevallig ook op besoek was. Hulle wou weet hoekom ek ontsteld is, en die nyweraar het gesê dis twak, hy is self “in bevel daar” en dit sal nie gebeur nie. Ek het hierna egter om elke hoek en draai begin teenspoed kry tot die Kommissie vir Administrasie my terugwerkend bevorder, en ek in ‘n ander departement geplaas is.
    Daarna het ek die wind van voor by ‘n ander prominente lid gekry, en onder andere in die hof beland tot die Direkteur van Openbare vervolging ingegryp het. Die persoon het daarna dieselfde klag gaan lê waarvan uiteraard niks kon gekom het nie. Intussen het die betrokkene een van die AB se felste kritici geword. In ‘n stadium het ‘n destydse jeugleier my gevra dat ek ‘n lys name maak van mense wat ek vermoed in die AB is en wat ek vermoed ‘n vendetta teen my voer. Ek het so gemaak en niks weer daarvan gehoor nie. Daardie betrokkene is ook nie meer (aktiewe) lid van die AB nie.
    Dieselfde persoon het my ook genader om as kandidaat vir ‘n kleinerige party in die betrokke munisipale verkiesing te onttrek, omdat bekommerd was dat my kandidatuur stemme van die DA-kandidaat (‘n AB-lid) ten bate van die VF+ se kandidaat (nie ‘n AB-lid nie) kon verdeel. Hy het dit gelos toe hy verneem hoeveel werk en kostes ek reeds aangegaan het.
    Hoewel ek sou verkies dat die AB teen lede optree wat op eie inisiatief in aksies betrokke raak om mense te knyp, en wat die AB in geheel se beeld laat skade ly. Ek het egter te min insae in die binnewerking (het geen) om te weet wat daar aangaan nie, en of dit nie dalk in elk geval gebeur nie. Die paar keer wat ek met adv. Pieter Vorster te make gekry het, het hy ‘n baie goeie indruk op my gemaak, en ek glo hy, as regsgeleerde, sal die audi altaram partem-beginsel ten volle omarm dat mense nie sommer geknyp word net omdat ‘n lid ‘n aksie teen daardie persoon het nie.
    Aan die ander kant was sy voorganger ‘n onderwyser by die skool waar ek gematrikuleer het, en sal ek soos baie van my alma mater nooit respek vir hom kan hê nie. Ek verneem heelwat lede het ook afstand gehou terwyl hy die leier was.
    Ek persoonlik verkies om uit respek vir hulle in wie se volle integriteit ek glo en nie meer daar is om hulself te verdedig nie, ‘n neutrale houding in te neem, en nie die optrede van po*p&olle wat kleinlike agendas bedryf ‘n hele organisasie te kritiseer nie.

  2. Jean Oosthuizen

    November 29, 2011 at 7:11 am

    Ag vaderland spaar ons dit. Alweer die Broeders. Ek sweer daar is net een ding erger in die land as Malema en dit dit is die Broeders wat nie tot rus wil kom nie. Om op die manier aandag te trek ter wille van publisiteit is tog so koddig. Daar is meer as genoeg ander organisasies met geloofwaardigheid wat die werk veel beter kan doen as die handvol boeties wat regtig niks meer as organisasie het om by te dra nie. Wanneer gaan die AB besef niemand neem hulle meer ernstig op nie? Dis so goed soos die HNP wat een of ander standpunt probeer maak behalwe dat die HNP waarskynlik meer lede het.