Subscribe by Email

Malema-saak: CDP ongelukkig met opposisie-reaksie

“Die Christen-Demokratiese Party (CDP) is baie ontsteld oor die standpunte wat die meeste opposisiepartye oor die Julius Malema-haatspraakuitspraak ingeneem het,” aldus die CDP-leier, ds. Theunis Botha.

“Ons verstaan dat die DA, gegewe sy liberale wortels, die uitspraak as in beginsel verkeerd beskou, aangesien die vryheid van uitdrukking as ‘n prima-individuele reg beskou word en dat individuele regte ‘n hoër status as minderheidsregte het. Waar ideologie egter die werklikheidspoor byster raak, veral in n’ land waar polarisasie so hoog is, moet daaroor herbesin word. Regter Lamont het met groot omsigtigheid aangetoon hoe sy uitspraak op die Internasionale en Suid-Afrikaanse regspraak gebaseer is.

“Trouens, in die VSA word ‘n groepie mense nou van haatmisdade aangekla na hulle ‘n kruis naby die huis van ‘n swart gesin verbrand het.

“Dit is ook vir ons hartseer om te meld dat die ACDP se gebrek aan standpuntinname in hierdie saak nog ‘n struikelblok plaas in die weg van moontlike toekomstige eenheid. ‘n Christen-party moet immers ‘n standpunt hê waar die Bybelse beginsel van liefde vir die naaste so openlik verwoes word. Internasionaal is Christen-demokrasie nie-rassig en plaas individuele en minderheidsregte in balans.

“’n Mens hoef maar net die internetkommentare op die nuus dat die ANC appelleer teen die uitspraak en in reaksie op die DA se aankondiging te lees om te besef hoe groot die omvang is van die skade wat aangerig is omdat die ANC nie dadelik die sing van die liedjie blywend gestaak het nie. Benewens die woedende reaksie is dit hartseer om te lees hoeveel mense nou voel hulle het geen hoop meer vir die land nie. Die ANC kan nie maar bloot deur steun vir die Springbokke in Nieu-Seeland te monster hierdie skade ongedaan maak nie.

“Die Wêreldsokkerbekertoernooi in Suid-Afrika het, soos sosioloë voorspel het, bewys hoe verwoestend post-euforiese depressie en trauma kan wees – wanneer mense weer met werklikhede soos ‘n korrupsie-deurdrenkte samelewing, paaie vol slaggate, werkloosheid en armoede gekonfronteer word.

“Daar moet immers meer verantwoordelike wyses wees om die land te regeer as om ‘n deel van die ontnugterde bevolking deur emosionele opsweping op ‘n bedwelmde piek te probeer hou.”