Subscribe by Email

Maand van spiritualiteit

Is die volle sirkel voltooi tussen spiritualiteit wat by oermense teenwoordig was, en moderne spiritualiteit wat van godsdiens losgemaak word?

13:8 Love never ends. But if there are prophecies, they will be set aside; if there are tongues, they will cease; if there is knowledge, it will be set aside. 13:9 For we know in part, and we prophesy in part, 13:10 but when what is perfect comes, the partial will be set aside. 13:11 When I was a child, I talked like a child, I thought like a child, I reasoned like a child. But when I became an adult, I set aside childish ways. 13:12 For now we see in a mirror indirectly, but then we will see face to face. Now I know in part, but then I will know fully, just as I have been fully known. 13:13 And now these three remain: faith, hope, and love. But the greatest of these is love.

Die Nederlandse koerant, Trouw, het saam met ‘n paar vennote ‘n maand van spiritualiteit verklaar. Verskeie artikels oor die onderwerp is reeds geplaas, en daar is selfs ‘n toets op die webwerf waardeur ‘n mens kan vasstel hoe spiritueel jy self is. (www.trouw.nl/spiritest ) Verskeie spirituele boeke word ook geadverteer.

By die verduideliking wat met dié spiritualiteit verstaan word, word dit verduidelik dat ofskoon die begrip gewoonlik as verweef met religie verstaan word, dit nie hier geld nie. Dit, ten spyte daarvan dat Trouw homself as Christelike koerant beskryf.

Soos wat Trouw nou spiritualiteit beskryf, kan dit nie anders nie as dat gewonder word of daar nou op ‘n volle sirkel oor miljoene jare menslike bestaan afgestuur word.

Dié gedagte (dit het te min inhoud om selfs as hipotese te kwalifiseer) is dat die godsdienssin by die mens as ‘n vorm van spiritualiteit ontstaan het. Onder die navorsers wat die Wonderwerkgrot in die Noord-Kaap bestudeer, meen dat die oerinwoners sowat twee miljoen jaar gelede ‘n soort spritualiteit moes beleef het. Dit is gebaseer op die feit dat kristalle skynbaar aangedra is na ‘n deel van die grot wat ‘n soort kapelvorm het, en danksy ‘n poel water (wat lank nie meer bestaan nie) ‘n tipe gewyde atmosfeer moes gehad het.

Omdat daar geen oorblyfsels van die menslike inwoners is nie, weet ons nie presies vir seker wie daarin gewoon het,k en of hierdie moontlike vroeëre spore van spiritualiteit onderbroke geloop het tot waar die mens vandag staan nie. Die inwoners moes tydgenote, of min of meer tydgenote gewees het van die Sediba waarvan voorbeelde by Sterkfontein gevind is, en wat nou as oorgangsvorme tussen die aapmens en die mens aangebied word, en na ongeveer 1,8 miljoen jaar gelede teruggevoer word. Omdat beide die Wonderwerkgrot en die Sterkfonteinkompleks se datering deur verskillende metodes gekruiskontroleer word, waaronder paleomagnetisme, is dit besonder akkuraat. Trouens, die akkuraatheid word verhoog deur die afwesigheid van ‘n magnetiese oriëntasie in die tyd van sediba, en omdat hierdie tydperke tussen die omskakeling van die aarde se magnetiese oriëntasie baie presies bepaal is, kan datering baie noukeurig gedoen word.

Sou die Wonderwerkgrot se inwoners inderdaad ouer as Sediba blyk te wees, is dit moontlik dat spiritualiteit reeds baie, bie vroeg ontwikkel het.

Nader aan die moderne tyd is daar aanduidings dat die Neandertalmens sy afgestorwenes begrawe het, selfs met voorwerpe soos blomme en versierings. Die afleiding is dat dié oermense ‘n vorm van godsdiens gehad het. Die moderne mens stam egter nie van die Neandertal af nie (hoewel onlangse genetiese toetse daarop dui dat die Eurasiese mens ‘n klein persentasie Neandertalgene besit).

Daar is ook aanduidings dat die vroeëre mens, die Heidelbergmens, ‘n vorm van religie geken het.

Die aanduidings dat godsdiensvorming by verskillende menstipes aanwesig was waarvan nie almal voorouers van die moderne mens is nie, dui ook daarop dat ‘n vorm van spiritualiteit na ‘n gemeenskaplike voorouer teruggevoer kan word. Wat ook redelik duidelik blyk, is dat die gesofistikeerdheidvlakke van spiritualiteit en godsdiensvorming met die breingrootte van die betrokke menstipe verband hou.

‘n Gans ander kwessie, wat vandat uiters aktueel is, is die vraag oor wanneer moraliteit deel van spiritualiteit of godsdiensvorming geword het. Is dit moontlik dat mense met insig die moraliteitskwessie by godsdiens ingebind het om ‘n sinvoller lewensorde te kon skep?

Baie bronne tref geen onderskeid tussen die vorming van spiritualiteit en moraliteit nie. Wanneer die verskil wel erken word, verskil bykans elke outeur van die ander. Op die oog af lyk dit of moraliteit ‘n sterker vastrapplek moes begin kry het toe gemeenskappe sowat 12 000 jaar gelede groter begin word het, en ‘n vorm van orde moes begin geld. Die voorkoms van sjamaans of ander vorme van geestelike leierskap word ook tot in die oertyd teruggevoer, en blyk dikwels uit rotstekeninge wat tienduisende jare terugstrek.

Wat ons wel muit die bekende geskiedenis (dus die na-argeologiese en paleontologiese tydperke kan bepaal, is dat moraliteitsbegrippe baie verander het.

Uit die Bybel leer ons van die wreedhede wat met Israel se bure se godsdiensbeoefening gepaard gegaan het – menslike offers deur die Baäl- aanbidders. Dit het redelik uitgebrei, soos in Kartago, ‘n Fenisiese vestig in Noord-Afrika, waar Baäl vereis het dat edelliede se babas geoffer moes word.

Hernan Cortez en sy geharde manne was met afsku vervul toe hulle deur die venster van ‘n Asteekse paleis sien hoe die priesters menslike offers se harte uit die steeds rukkende mense sny, sodat die piramide later rooi van die bloed was.

Hoewel die Mayas se godsdiens minder bloeddorstig was as dié van die Tolteke en Asteke, het hulle tog die gebruik gehad dat die wenners van ‘n religieuse balspel doodgemaak is as beloning, sodat hulle die paradys-hiernamaals kan betree.

Van die aktiwiteite van die Inkwisisie herinner ook aan ‘n godsdiens gestroop van moraliteit, of dan ‘n moraliteit wat die boodskap van liefde vir God en liefde vir die naaste.

Die interessantheid is dat terwyl in baie vorme van spiritualiteit die noodsaak van godsdiens weggeredeneer word, word die behoefte aan moraliteit minder onder skoot geplaas. Trouens, kort voor Wall Street se ineenstorting tot wêreldekonomiese krisis ingelui het, het ‘n veldtog in Europa ontstaan om die media en die politici meer “moreel” te maak. Dié fokus het gou na die groot magnate soos bankbase verskuif, wat ‘n gees van onhebbelike inhaligheid geopenbaar het – so erg dat een firma wat ‘n reddingsboei van die Amerikaanse regering gekry het, van die geld dadelik gebruik het om bonusse van miljoene dollar aan die base te betaal.

Christen-demokratiese Partye (toe nou vry algemeen aan bewind in Europese lande (het morele en etiese hoofstukke in hul ekonomiese herstelprogramme ingeskryf, en veral die Vlaamse CD & V het ruim ruimte hieraan afgestaan.

‘n Belangrike element van die Wall Steet-besetting wat wêreldwyd uitkring, is die opeis van moraliteit.

Wat is die manifestasie in Suid-Afrika?

In die lig van die ontsaglike vlakke van korrupsie wat daagliks aan die groot klok gehang word, en die verwoestende ekonomiese gevolge daarvan, is dit ondenkbaar dat enige mens – selfs sonder enige trek vir godsdiens of spiritualiteit die behoefte aan moraliteit sal bevraagteken.

By baie mense is daar egter ‘n dieper behoefte aan spiritualiteit. In die Suid-Afrikaanse konteks beteken spiritualiteit egter vir verskillende mense verskillende dinge.

Een van die subtiele verskille tussen die NG Kerk en die NH Kerk word soms uitgedruk as dat die NH Kerk nie die meer spirituele inspuiting van Andrew Murray beleef het nie.

Die spirituele element word dikwels as ‘n oppervlakkige aspek voorgehou, of dan iets wat “in die oomblik” opgewek word. Die beeld wat opgeroep word is van mense wat ‘n aantrekkingskrag vind in kerkgenootskappe, gewoonlik charismaties, waar tydens die erediens of ander saamtrekke, sterk spirituele emosies opgesweep of ervaar word. Mense steek hul hande in die lug, word meegevoer, en slaan soms neer. Kort na die byeenkoms is dieselfde mense weer vierkantig in die sekulêre, en dra min of geen diepgang oor na die lewe nie. Dit is nié bedoel as veralgemeende stelling nie.

Die gereformeerde mens het in die algemene opvatting ‘n meer eweredige belewenis – nie ‘n besondere spiritualiteit in die diens nie, maar met ‘n groter diepgang dra y meer van die waardes en opvattings na die gewone lewe oor.

Dié oorvereenvoudiging word gewoon gebruik om te toon dat spiritualiteit dikwels as ‘n oppervlakkiger emosie ervaar word, terwyl ‘n meer gereformeerde uitkyk dikwels as iets met ‘n groter diepgang en drakrag na die hele lewe beskou word. Natuurlik is daar mense wat dié vereenvoudiging verkeerd bewys.

Dit word boonop erg gekompliseer deur ‘n vorm van fundamentalisme, dikwels juis sterk teenwoordig in die charismatiese kerke, waar ‘n stel fundamentalitiese opvattings rigied toegepas word en juis die meer spirituele ervaring buite die byeenkoms-verband verdring.

Minstens ‘n deel van die nuwe hervorming probeer ook die skeidslyne tussen godsdiens en spiritualiteit verskuif, en soms godsdiens weer daarbuite plaas – en dit voltooi dan die sirkel na ‘n tydperk toe die oermens skynbaar al ‘n sin vir spiritualiteit besit het, maar godsdiens nog te primitief geformuleer was om as godsdiens herken te word.

Ons ken maar ten dele. Juis hierom moet ons uiters versigtig wees oor die wyse waarop ons dit waarin ons self glo, aan ander probeer opdwing. Om ‘n eertydse inkwisisie wat mense verbrand het wat glo die aarde is rond te vervang met ‘n eietydse inkwisisie wat ander tot die hel veroordeel omdat hulle anders as ons self glo, terwyl ons eie kennis maar beperk is, dien geen positiewe doel nie. As ons nie as beelddraers van God die lig (in die vorm van spiritualiteit of andersins) na die wêreld kan uitdra nie, is ons spiritualiteit beperk tot die spirituele byeenkoms. Of as dit daar ook heeltemal afwesig is – as ons kerk toe gaan as sosiale langgesiggebruik, gaan ons ook maar ‘n flou liggie na die wêreld dra. ‘n Liggie wat herinner aan die praatvermoë van papegaaie en kraaie.

Herman Toerien