Subscribe by Email

Liszt se boodskap aan Afrikaners

Môre, 22 Oktober is dit presies 200 jaar sedert die Oostenryks-Hongaarse komponis Franz Liszt die eerste lewenslig aanskou het.

Hoewel hy waarskynlik in die orde van 1 500 komposisies geskryf het, is maar sowat 350 hiervan opgevoer, en baie daarvan ook net een keer. Hoewel hy as een van die groot klassieke komponiste beskou word, tel hy nie onder die heel bekendstes nie, en nog minder tel baie van sy y werke onder die gewilde en bekende komposisies.

Tog is daar twee uitsonderings: Min mense word nie deur sy pragtige Liebestraums meegevoer nie, en sy Hongaarse rapsodieë is bekend en gewild.

Liszt was nie die enigste klassieke komponis wat sy volk se volksmusiek in klassieke komposisies verwerk het nie. Dink maar aan die veel jonger Edvard Grieg wat die Noorse volksmusiek op hierdie wyse verewig het. Grieg het so ver gegaan om in van sy komposisies, soos die bekende Pier Gynt ruimte te laat vir die tradisionele Noorse Hardanger-viool – geen geringe prestasie nie aangesien die Hardanger sowat 22 Hertz afwyk van ander instrumente se ooreenstememnde note.

Daar is baie te leer uit Liszt se aanklank met Hongaarse musiek.

Hongarye, asook ander dele van Oos-Europa was lank in wese ondergeskikte kolonies van Oostenryk. Hoewel die Hongare later in teorie dieselfde status as die Oostenrykers geniet het, was die situasie nie altyd so nie. Om werklike aansien in Oostenryk-Hongarye te kom geniet, moes die persoon naatloos in die Duitssprekende gemeenskap kon inskakel, en met die Oostenrykse kultuur geassosieer word.

Trouens die bevordering van Hongaars in die Koninkryk van Hongarye – ‘n onderdeel van die Oostenryk-Hongaarse keiserryk – het maar sowat twee dekades voor Liszt se geboorte begin en was ‘n teenreaksie op keiser Joseph II se poging om Hongarye te verduits.

Liszt was self van Duitse afkoms. Trouens, sy geboortedorp, Raiding, is vandag deel van Oostenryk, sy ma was ‘n Ooostenryker en Liszt self was nooit behoorlik, soos sy pa, onderlê in Hongaars nie. Franz se pa, Adam, het hul van na Liszt verander om dit te verhongaars, en sy oupa, Georg, het sy van eers so verander na die jong Liszt befaamd geraak het. Franz was ook deel van die Neudeutsche Schule (Nuwe Duitse skool). Hy was boonop ‘n wêreldreisiger en as knap pianis het hy die eerste suksesvolle solo-opvoerings gehou, selfs in Londen. Hy het lank in Parys en in die gerekende musiekstede van Italië gewoon, en is selfs deur die Pous opdrag gegee om kerkmusiek te red wat destyds ongewild geraak het, deur nuwe melodieë daarvoor te komponeer.

Tog het Liszt, na ‘n afwesigheid van twee dekades, met sy terugkeer na Hongarye in Frans geskryf: “Dit sal aan my gegun moet word, dat ten spyte van my gebrekkige kennis van Hongaars, ek van geboorte tot die graf in my hart ‘n Magjaar is.” Die Magjare was die oosterse volk waaruit die Hongare ontstaan het. Een van die redes vir Liszt se liefde vir die Hongare was dat welgestelde Hongare deur die musiektalent van die Duitssprekende seun beïndruk is en vir sy musiekstudies betaal het.

Liszt het veral in sy later jare, na die dood van sy kinders, baie godsdienstig geword en dalk ten onregte gekla dat die Protestante niks van hom wil weet nie, en die Rooms-Katolieke ook nie van sy musiek hou nie.

Luister ‘n mens na die verwerkings van Hongaarse musiek is daar geen twyfel nie, sy passie het meesterstukke geskep wat ook heerlike luistergenot verskaf. Dieselfde passie as wat Grieg vir sy geliefde Noorweë gehad het wat onmiskenbaar sy musiek gestalte gegee het, is ook in Liszt se Hongaarse rapsodieë aanwesig. Toevallig was Grieg ook nie werklik so volkome van Noorweegse afkoms nie – sy pa was ‘n Skot.

Volkstrots leef in die hart eerder as afkoms. Vader Kestell, wie se pa ‘n Engelsman van Devonshire was het tydens die ABO deel van die Vrystaat se regering ter velde uitgemaak saam met pres. MT Steyn en generaal CR de Wet.

‘n Mens kan lojaal aan sy kulturele wortels bly, selfs al het omstandighede dit so beskik dat ‘n mens naatloos by ‘n dominerende en skynbare meerdere kultuur kan inskakel – dit maak ‘n mens gewoon ‘n beter mens.

Die Afrikaanse kultuur hoef geen duit vir enige kultuur terug te staan nie. Afrikaanssprekendes was pioniers met hartoorplantings, kernfisici en vele meer. Geen poging wat Julius Malema aanwend om die Afrikaner te verneder, gaan slaag nie – dit gaan eerder die Afrikaner sy rug laat styf maak. By wyse van spreke sal die pensklavier kort voor lank sy plek in simfonieorkeste vind.

Vandag sluk die Franssprekende Belge swaar daaraan dat hulle nie net hul statusvoorsprong in dié land prysgegee het nie, maar sosio-ekonomies by die Vlaminge agter geraak het. Trouens, dat die Wale dikwels steeds ‘n meerderwaardige houding teenoor die Vlaminge inneem, kan kort voor lank veroorsaak dat die armer Wale die miljarde Euro’s subsidie wat hulle jaarliks van die Vlaminge kry, kwyt kan wees.

Liszt se boodskap is duidelik – dit is in die haak om te sê: “My erfenis is vir my mooi. Passievol mooi.”

Opgestel vir MaroelaMedia