Subscribe by Email

Lions byt Cheetahs

Sport is nou maar so – as jou span wen, kom die son op sy mooiste op. Verloor jou span, het die silwer randjie ‘n donker wolk, is die regering vrot, en moet die hond uitgeskel word omdat dit al onder jou voete bly, terwyl die arme ding net voel jy is onlekker en jou beste vriend wil wees.
Kyk maar na koerantbriewe. Is jou span in ‘n verloorfase, word redes gesoek om sleg te sê, kwaad te wees. Wen die span, brand die veugdevure hoog, is die asynwyn weggesmyt, en alles is klopdisselboom – tot die span weer aapstert kry.
En dan is daar die Cheetahs.
Lojale ondersteuners het begin keelvol raak vir die alewige vingerwysery – statistieke opgediep oor hoe jonk die span eintlik is – selfs jonger as die Lions wat as so ‘n jong span voorgehou word. Ondersteuners wat so kla is as mooiweersvriende afgemaak.
Maar…
Ja, dit is so dat die Cheetahs ‘n baie goeie agterlyn het. Of so vermoed ons, want ons hoor dit gereeld. Maar hoe moet ons dit regtig weet? Daar is sekerlik niks mee verkeerd as ‘n voorspeler of paar voorspelers in die agterlyn staan nie. Die kanse is minstens kleiner dat hulle die bal sal wegsool vir die opponente se snellers om mee aan te val.
Onder die statistiek wat ontbreek as die leunstoelkenners hul analises opdiep oor hoe goed die Cheetahs eintlik is, ontbreek daardie stukkie data: Hoeveel van die Cheetahs se “taktiese” skoppe het nie al onder hul eie pale in drieë vir die opponente uitgeloop nie? En ‘n mens praat al van ‘n paar seisoene. Soms is hierdie drieë sommer in dieselfde fase afgerond, soms na ‘n losfase of twee, en selfs na ‘n vaste fase of twee.
En dis nie asof dit ongemerk is nie. Verskeie briefskrywers het al hieroor gekla. Toeskouers by wedstryde het al van hierdie mamparraskoppe uitgejou. En die opponente weet dit ook, en laat weet sommer ook hulle weet dit soos om spesiaal vir Gio Applon agterlangs in te sluit. Die radiokommentators is nie geflous nie. Selfs hulle maak geen geheim in hul kommentaar van nog ‘n skop in die opponente se keelgatte af nie. Met die wedstryd teen die Lions is die Leeus se ringkoppe nie eens geflous deur die insluiting van Sias Ebersohn as losskakel nie. Hulle het James Kamana in die laaste vesting gaan kies.
Maar iemand in die Cheetahkamp kry skynbaar nie die boodskap nie.
Om Sias nou te slag na hy uit sy gebruiklike styl moes skoppende rugby speel – dit is onregverdig. En hy was nie al een wat onoordeelkundige soolwerk aan die dag gelê het nie.
Trouens, die Lions het seker gemaak die Cheetahs val nie doeltreffend met skoppe aan nie. Hulle is ‘n slag of wat gestraf vir darem ‘n bietjie te vinnig uit die blokke te wees met die verdediging.
Al het die Lions verdien om te wen, was die Cheetahs ongelukkig om altesaam drie keer oor die doellyn te gaan, maar weens blapse nie punte te kry nie. Maar die Lions is self ‘n slag punteloos oor die Cheetahs se doellyn.
‘n Wedstryd wat al die potensiaal gehad het om die mooiste Super-wedstryd van die seisoen te wees het in iets ontaard wat net die Lions lank sal onthou – en dit was bloot omdat hulle na meer as ‘n jaar weer ‘n slag aan die wenkant was. By tye het dit gelyk of veral die Cheetahs die heel week aanslane geoefen het. In die eerste helfte was die verdediging vrotsig, en sou – soos een toeskouer geskree het – selfs ‘n span duiksakke voorgeloop het.
As die kritiek dié keer weer neerreën sal dit nie soseer wees oor hul span verloor het nie, maar omdat die span verloor het deur keuses op hul eie swakpunte uit te oefen.
En nou lê die reis na Doer onder voor – steeds segeloos.