Subscribe by Email

Lid van die IOK word in Rio in hegtenis geneem

rio1Die Brasiliaanse polisie het ‘n lid van die Internasionale Olimpiese Komitee in hegtenis geneem in verband met ‘n ondersoek na die verkope van Spele-kaartjies op die swartmark. Patrick Hickey van Ierland is in sy hotel in Rio de Janeiro aangekeer. Hy word daarvan verdink dat hy betrokke is by ‘n internasionale komplot om kaartjies aan agentskappe te voorsien wat dit baie duurder herverkoop.

Caster Semenya van Suid-Afrika het intussen in die sesde vinnigste tyd deurgedring na die halfeindronde van die 800 meter in Rio. Sy het haar uitdun gewen in een minuut 59,32 sekondes. Semenya word beskou as ‘n besliste gunsteling om goud te verower en selfs die wêreldrekord van een minuut 53,28 sekondes te verbeter. Sy hardloop vroeg Vrydagoggend in die voorlaaste ronde en die eindronde word Sondagaand beslis.

Elroy Gelant van Suid-Afrika was vyfde in sy uitdun in die vyf duisend meter en het vir die eindronde gekwalifiseer, terwyl die kanovaarder Bridgitte Hartley deur is na die voorlaaste ronde van die kajak-enkels oor 500 meter.