Subscribe by Email

Libië se Moslemplanne: Probleem of oplossing?

Libiërs is pas ‘n gematigde Moslemregering beloof. Dié belofte het van die tussentydse Libiese leier, Mustafa Abdel Jalil, gekom.

So kort op die tiende herdenking van die aanvalle op die VSA is dit vir baie westerlinge stellig rede tot kommer.

Met Libië as erg gefragmenteerde samelewing met ‘n spektrum van spanne wat onlekker vir mekaar is, moet ‘n gemene deler gevind word as daar enige hoop is om die land suksesvol die toekoms in te neem.

‘n Gedeelde godsdiens, die Islam, lyk dus aangewese. Sowat 97 % van die Libiërs is Moslems, en die oorgrote meerderheid hiervan is Soenies.

Dit is dus in teenstelling met ander oorwegend Moslemlande wat onder die Arabiese domino-rewolusie deurloop, spesifiek Egipte en Sirië. Beide hierdie lande het betreklike groot Christen-gemeenskappe, terwyl beide Moslem en Christen in Sirië boonop erg in sektes en denominasies uiteenval.

Slegs sowat 5 persent van Libië se bevolking kan as ongearabiriseerde Berbers beskryf word, en hulle is boonop ook Moslems.

Die meer as 40 jaar Ghaddafi-bewind het ‘n groot indruk gelaat. Heterogeniteit is in hoofsaak deur onderdrukking onder beheer gehou, maar hy het op die Italiaanse besetting voortgebou om die meer inheemse variasies van die Islam, soos onder andere beoefen deur die Moslem-beweging, met ‘n meer standaard-Islam te vervang. Tog het hy nie volkome na die Sharia-vlak beweeg nie maar daar is nietemin spore van inheemse Islamitiese manifestasies wat minderhede raak.

Ghaddafi se bewind was lank met die Moslembroederskap, meestal middelklas-intellektuele haaks. In 1998 het die Ghaddafi-bewind op die Moslembroederskap toegeslaan, baie is aangehou en baie is tot bannelingskap gedryf. In 2006 het die regering en die Broederskap versoen geraak, die leiers is vrygelaat, maar met die opstand teen Ghaddafi het die Broederskap sy gewig by die opstandelinge ingewerp. Hoewel nie so radikaal soos die Jihads nie, is die Broederskap ‘n groep wat enige Moslemregering eerder aan sy kant wil hê as in die geledere van die opponente.

‘n Gematigde Moslembewind is dus, vanuit die opstandelinge se perspektief, ‘n beter opsie as ‘n sekulêre bewind soos wat Turkye en Sirië amptelik het, want dit het ‘n verenigende potensiaal – basies die enigste, wat in die oorgangstydperk nodig sal wees.

Amptelike sekulêre regerings hou nie noodwendig vir Christene en ander godsdiensgroepe ‘n beter heil in as sekulêre lande met hoofsaaklik Moslembevolkings nie. Veral in Turkye het Christen-gemeenskappe soos die Armeniërs en Assiriërs erg deurgeloop en was trouens aan volksmoord uitgelewer. Vandag is Turkye, eens die bakermat van Bybelse Christen-gemeentes, byna uitsluitlik Moslem. Christene is aan erge diskriminasie onderwerp en beperkings op kerkeiendom is pas eers grootliks opgehef. In Sirië geniet Christene nomineel ‘n mate van beskerming, byvoorbeeld geaarborgde parlementêre verteenwoordiging maar in die konteks van die diktatoriale aard van die Assad-bewind, beteken dit ook nie veel nie. Tog word teenstrydige berigte ontvang – byvoorbeeld dat die Christene in Sirië minder entoesiasties oor die opstand is omdat hulle bekommerd is dat ‘n suksesvolle opstand ‘n Moslembewind aan die stuur van sake kan stel wat nog minder verdraagsaam teenoor Christene kan wees.

Vir die buiteland is voorkeure oor ‘n sekulêre bedeling of gematigde Moslembewind in Libië waarskynlik luukshede wat nie bestaan nie. Die gemeenskaplike Moslembande is waarskynlik al wat Libië, veral in die oorgangsfase kan bestendig. En dan is ‘n gematigde Moslemregering by verre die beste beskikbare opsie. Die kuns sal wees om die bewind, ongeag die Islamitiese karakter daarvan, gematigd hou.

Herman Toerien