Subscribe by Email

Lesse uit Madiba-euforie – CDP

Die Christen-Demokratiese Party (CDP) het met kommer gereageer op die omvang van mensverheerliking wat met oud-president Nelson Mandela se verjaarsdag gepaard gegaan het.

“Uiteindelik hou dit die gevaar is dat die kloof tussen hulle wat ‘n minder romantiese beeld van Mandela het, en hulle wat net die wonderlike raaksien en opblaas kan verdiep. Uit baie van die internet-kommentare was dit duidelik dat hierdie ongekende vlak van mensverheerliking by baie Suid-Afrikaners wie se Christelike tradisie nederigheid en beskeidenheid as bate stel, ‘n swak smaak gelaat het,” aldus die CDP se woordvoerder, Linda Pretorius.

“Een koerant het in sy hoofartikel selfs geskryf dat die gees van welwillendheid wat ervaar word, aan Kersfees herinner.

“Die CDP streef daarna dat welwillendheid in Suid-Afrika om Christelike waardes gebou word waar die mens minder, en die Here meer word.

“Wat nou gebeur het is ‘n euforie wat herinner aan die mites wat om die vorige Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-il, gebou is, soos dat wonderwerke gebeur het so ver soos hy gereis het.

“Met die omvang wat die euforie nou aangeneem het, word Mandela se nalatenskap eerder geskaad as bevorder.”