Subscribe by Email

Lesse uit Johan Goosen se besering – maar wat is die lesse?

Met Johan Goosen se besering wil ‘n mens instinktief aanvoel dat daar ‘n les of twee drie in die jongste besering van Johan Goosen opgesluit moet wees. Maar om die les raak te sien, is dalk nie so maklik nie.

Die eerste reaksie wat ‘n mens hoor is dat hy te jonk aan die diep kant ingegooi is. Maar hy is nou nie meer so danig jonk nie. En daar was al talle ander jongelinge, juis losskakels of manne wat losskakel kon speel, wat die Groen-en-Goud jonk oor die kouers getrek het – op 19 of twintig jaar. Dink maar aan manne soos Jannie Barnard, Frans Steyn en Pat Lambie. Mens hoef werklik nie ver te gaan soek nie. Naas Botha was ook nog lank nie ‘n gryskopomie toe hy Springbok geword het nie.

En dit is nie net die jong manne wat beseer word nie – trouens, die ongeluksvoëls is gewoonlik heelwat ouer – byvoorbeeld Frans Viljoen wat juis nou saam met Goosen op die vliegtuig huistoe gestuur word, Hendro Scholtz, en moenie heeltemal vir Heinrich Brüssow weggooi nie.

En onthou, selfs nog voor Jannie Barnard Springbok geword het, het van die groter opponente voor wedstryde openlik gespog hulle gaan die “mannetjie” op ‘n draagbaar van die veld af laat kom. Jannie het na sulke wedstryde van die veld gestap, en die ou het grotes afgestrompel na hulle hul poegaai agter die jeugdige flair aangehol het, en sommer voor lemoentyd niks anders as passasiers op die veld was nie.

Die eerste klip wat ek in die bos wil gaai, wat al lank ‘n klip in my skoen is, is die kwessie van lang beroepseisoene. Min spelers kry nou nog kans om, soos in die ou dae, ernstig tydens die “afseisoen” aan ander sportsoorte soos krieket en / of atletiek deel te neem. Nou word van spelers verwag om hul aandag op rugby, en net rugby, toe te spits. ‘n Hele paar jaar gelede was ‘n ongeroemde rugbybond baie omgesukkel vir sy losskakel omdat dié aan die Comrades gaan deelneem het. Dié losskakel het self bitter jonk op die toneel gekom, en baie jare later sonder noemenswaardige beserings die tokse weggebêre.

Kepler Wessels het as laerskoolkannetjie nog die Vrystaatse laerskoolspan op heelagter verteenwoordig, maar ook in die bokskryt ‘n hele paar manne laat harpuis ruik. En hy was ‘n voorslag tennisspeler.

Percy Hall het aan beroepstoei deelgeneem, en vir Natal op stut gesak. Naas Botha was ‘n Springbok-bofbalspeler, en Jaco Reinach het as Springbokvleuel ook sy spore op die atletiekveld baie diep getrap.

Die spelers wat doodgewoon in die somer vir hul bonde krieket, en in die winter rugby gespeel het, was ellelank. In die Vrystaat was die Strydom-broers hiervoor bekend, maar so ook baie ander.

En al het hulle nou nie vaste provinsiale instellings op die krieketveld geword nie, het De Wet Ras en Morné du Plessis tog ook provinsiale krieket geproe, en spelers soos Peter Kirsten en Gavin Cowley ook teen besoekende oorsese spanne rugby gespeel (as losskakels). Die ou Rhodesiese rugby- en krieketspanne het gereeld sommer heelwat name weerskante gehad.

En vir diegene wat meen krieket is nou nie eintlik oefening nie; gaan val gerus by die netoefeninge in en stuur ‘n twintigtal balle na die kolwer af. Kyk of jy die volgende dag so besonders rats is.

En ja, die afrigters was vreeslik gekant daarteen dat “hul” spelers ook ander sport beoefen en het soms erg gedreig – so bang hul sterre kry in die “ander” sportsoort seer. Maar was dit nie juis die diversifikasie op spiere en ligamente wat gemaak het dat die beserings uitbly nie?

Boonop het bitter baie kinders nog skool toe, en Voortrekkers toe, en ja, rugby-oefeninge en -wedstryde toe met die fiets gery. Bloot as vervoermiddel sonder om eens te dink aan die bydrae wat dit tot fiksheid en spier- en ligamentbou lewer. Vandag, so voel dit, stel jy jou kind in lewensgevaar.

Beroepsport maak dit ‘n gegewe dat ‘n man nie meer so ‘n “afseisoen” het nie. Maar gaan dit nie dalk help as die manne aangemoedig word om in plaas van gholf vir afwisseling en ontspanning te speel, eerder gereeld ‘n potjie muurbal in te werk nie?

En nee, ek is nie anti-gholf nie. Het self al ‘n hele paar keer die gholfbaan aangedurf, en ja, op die Mooirivier se boom lê ‘n hele paar wit balletjies met die uwe se naam by wyse van spreke daarop.

Of selfs bietjie na fietsry kyk – of vir die grotes wat te swaar vir die dun wieletjies is, bergfietsry.

Die tweede saak wat e k onder die loep wil neem, is die konsep van “moderne” rugby. Vergelyk die berigte nou en so ‘n paar dekades gelede met mekaar. Toe was dit liplekkerlees hoe ‘n speler met aftrappe en pypkan sy opponente laat bondels lug duik het. Spelers het ‘n oog vir ‘n gaping gehad, en op die verdediging is ‘n man se pale gelig.

Nou die dag, in ‘n taalrubriek, word die vraag gevra of iemand nog weet wat pypkan beteken!

Nee, vandag is dit aanvalslyne, en verdedgingslyne, en volgens die radiokommetators word nou nog net “halwe gapings” gevat. ‘n Speler pypkan nie meer om die lyn te breek nie, hy hardloop nou volgens afgespreekte “aanvalslyne”.

Toe gaan Johan Goosen en tydens ‘n oefening gaan waag hy dit om iemand wat op hom afstorm, te pypkan, en daar gaan die knieligamente. Kortom, werk “moderne rugby” nie juis beserings aan, deur die soort oefeninge vir reguit hardloop nie?

Ek ís bevooroordeeld. As skoolkind die voorreg gehad om op Coetzenburg van Matieland te oefen en te speel (rugby en landloop). En daar gesien hoe Springbokke soos Gert Muller en Rampie Stander deur hul oefenpassies gesit word om te… pypkan. Is selfs ‘n rkkei deur Eben Olivier en ‘n paar bekendes afgerig.

Maar is dit werklik sulke “outydse” rugby. Maar hoekom slag die Nieu-Seelandse spanne ons spanne dan so gereeld met “outydse” rugby af? Kyk maar hoeveel keer breek hulle nog die lyne met pypkan en aftrappe, hoe maklik vat hulle nog volle gapings…

‘n Laaste kwessie. Goosen se besering stel die antwoord op die vraag uit of Goosen “Hawiesbestand” is. Met ander woorde, kan hy sy eie stempel bly afdruk en ontwikkel, in plaas van om soos die ander ook te verval in die spesialiteit van mamparraskoppe wat die opponente se aanvallers soos manna uit die hemel met pasellabesit te oorlaai?

Nou moet weer gewag word vir hierdie antwoord.