Subscribe by Email

Legendariese 80 jaar lange dooie wonderperd terug in Australië

Die skelet van die legendariese Australiese renperd, Phar Lap, kan die eerste keer in die land deur die publiek besigtig word – tagtig jaar ná sy dood.

Die reuse skelet van Australië se wonderperd is deur Nieu-Seeland, waar hy gebore is, aan die Melbourne-museum geleen. Sowat 350-duisend besoekers sal na verwagting na hom gaan kyk. Die kastaiingbruinperd, wie se vel al die jare bewaar is, was in die depressiejare Australië se groot held.

Hy het 37 van sy 51 wedrenne gewen – insluitende die Melbourne Cup. ‘Phar Lap’ is in 1932 in vreemde omstandighede in Kalifornië dood enkele dae nadat hy ‘n byeenkoms in Meksiko gewen het.

Toetse wat twee jaar gelede gedoen is, het die eerste keer getoon dat hy óf deur Amerikaanse boewe vergiftig is, óf ‘n oormaat tonikum deur sy afrigter ingegee is. Sy skelet wat nou te sien is, is só groot dat kinders dit dikwels vir ‘n dinousourus aansien.