Subscribe by Email

Leeuplesier vir SA-spanne

Die Lions het Suid-Afrikaanse spanne ‘n yslike guns bewys deur nog ‘n groot veer in die hoed te druk, toe dié Suid-Afrikaanse Aspestertjiespan weer as die reeks se koppesneller na vore getree het. Dié keer was dit die magtige Highlanders wat op hul tuisveld die onderspit gedelf het.
Die Stormers, die Sharks en die Bulls het hierna op die vroeë Suid-Afrikaanse sukses voortgebou.
Die arme Cheetahs. ‘n Paar liederlike stiefregterblapse, ‘n paar skoppe windskeef en Kabamba Floors se besering vroeg in die wedstryd het die Cheetahs duur te staan gekom – maar – die Cheetahs was weer met ‘n paar mamparraskoppe, ‘n paar verslappings in hul verdediging en ‘n paar aanslane ook deels vir hul eie ondergang verantwoordelik.
En o ja, die mees eenogige Blikoor moet erken die Bulls was ook op die veld, en het die luukse gehad van volop Springbokke op die impakbank. By tye het die Bulls werklik skitterende retensierugby, netjiese hardlooprugby, en ja, totale rugby opgedis.
Die uitslag beteken dat ses Suid-Afrikaanse spanne nog sterk in die wedloop om die Superreeks is. Na die naweek kan Peter de Villiers breed glimlag, hoewel hy nou ook moet besef dat hy hier en daar met sy aanvanklike uitsoekgroep lelik aangeslaan het.
Dié uitslag beteken ook dat die Cheetahs nou grootliks moet begin skaaf aan hul Curriebekerplanne, en kyk hoe hulle nog eer in hul oorblywende wedstryde teen die Sharks en die Stormers kan beredder. Veral die tuiswedstryd teen die Sharks kan nou ‘n harder neut wees as wat dit voor Floors se besering sou wees, met twee volledige losvoorspeler-kombinasies en twee slotpare op die krukkelys. Voor die Stormer-wedstryd is daar darem ‘n blaaskans, en hoewel daar nie veel versterkings vanuit die geledere van die hospitaalbrigade te wagte is nie, kan die blaaskans die Cheetahs net goed doen – maar nou eers die Sharks…
Wat die Currieberreeks betref, sal die Cheetahs nou seker lang trane huil dat hulle hul beste skrumskakel vlak gekyk het, wat beteken dat Super Sarel en Jandré Blom nou anderkant die diamantgrens diens doen, en die Cheetahs weer met Tewis de Bruyn moet waag. Baie hang daarvan af of die afrigters Tewis so ver sal kry om die taktiese skopwerk vir die skoppers te los, en net in noodgevalle die bal te sool – kantlyn toe.
Herman Toerien