Subscribe by Email

Landbou reageer op De Doorns

“Buite invloede wat min belang in die welsyn van die landbou en landbouwerkers het, misbruik die loonkwessie om arbeidsonrus aan te blaas wat oor die kort- sowel as langtermyn vir almal wat ‘n direkte belang hierby het, negatiewe gevolge sal inhou”, sê Johannes Möller, president van Agri SA.

Agri SA het gister saam met ander landbou-organisasies met die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, Me Tina Joemat-Pettersson, in Pretoria samesprekings oor die aangeleentheid gevoer. Daar was konsensus dat dit ‘n sorgwekkende situasie is wat nie net aan die sektoraal vasgestelde minimum loon toegeskryf kan word nie. Ander faktore wat hierop impakteer sluit in ‘n dryf van mededingende vakbonde om ‘n vastrapplek in die landbou te kry, ongelukkigheid oor die werkstatus van Lesotho-werkers teenoor dié van Zimbabwiërs as gevolg van ‘n gedifferensieerde benadering van die owerheid in dié verband, die opsweping van werkloses en selfs die inbring van persone wat nie ‘n direkte belang daarby het nie, vir doeleindes van politieke gewin asook onbevredigende dienslewering deur plaaslike owerhede in die plakkersgemeenskappe.

“Minimum lone in die landbou word in terme van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes vasgestel en daardie reëling word jaarliks in Maart afgehandel. In 2012 was die aanpassing bo inflasie. Nie Agri SA of enige ander landbou-organisasie het die wetlike bevoegdheid om namens landbouers ‘n loonaanbod in onderhandelinge, soos wat daar nou in die Wes-Kaap op aangedring word, aan te bied of oor te onderhandel nie. Agri SA kan nie deel wees van ‘n bedeling wat afbreuk doen aan ‘n geldende statutêre reëling en ordelikheid in die samelewing nie. Dit staan egter enige boer vry om met sy werkers oor loonreëlings te onderhandel. In dié verband het Agri SA in die verlede boere aangemoedig om, indien moontlik, hul werkers bo die minimumloonvlak te vergoed”, sê Möller.

Teen die agtergrond hiervan was die verstandhouding waartoe Agri SA met Minister Joemat-Pettersson ooreengekom het dat:

§ die owerheid se samewerking versoek moet word met die uitskakeling van opruiende uitsprake uit politieke oorde;

§ intimidasie en die aanhitsing tot geweld deur toereikende polisie-optrede uitgeskakel moet word, insluitend die aanry van onbetrokkenes om getalle-ondersteuning aan die demonstrasie te gee;

§ boere en werkers binne plaasverband die geleentheid gegee moet word om sonder buite-inmenging oor lone te onderhandel;

§ ander ministers versoek sal word om dringend aandag aan nie-loonverwante griewe te gee; en

§ die Wes-Kaapse regering versoek word om dringend aandag aan spesifieke diensleweringsprobleme op plaaslike regeringsvlak te gee.

Dit het tot Agri SA se inligting gekom dat die loongriewe grootliks deur seisoenale arbeiders uitgewys is en dat druk deur hulle en hul simpatiseerders op permanente plaaswerkers uitgeoefen word. Hierdie inligting is onder Minister Joemat-Pettersson se aandag gebring asook dat onrus en arbeidskoste tesame met ander kostestygings soos dié van elektrisiteit, water en brandstof tot struktuuraanpassings in die landbou sal lei.

Hierdie faktore word duidelik nie deur die leiers van die arbeidsonrus in ag geneem nie. Indien die protesoptrede wyer uitgerol word, kan dit in sekere bedryfstakke ‘n ernstig negatiewe invloed op landbouproduksie en -bemarking uitoefen. ‘n Direkte negatiewe effek daarvan op voedselsekerheid, werkskepping en handel – almal kritiese kwessies vir Suid-Afrika – kan in hierdie omstandighede voorsien word.

Na aanleiding van die onrus by De Doorns, het die Minister van Landbou TLU SA, saam met ander rolspelers in georganiseerde landbou, ontbied oor ’n gesprek rondom minimum lone in die landbou.

TLU SA se standpunt was dat daar nie eensydig na die minimum loon van werkers in De Doorns gekyk kan word nie. Die diversiteit in Landbou en die realiteit van geografiese gebiede speel ook ‘n rol. Daar is ‘n minimum loon vasgestel en TLU SA adviseer sy lede om nie werkers minder as die loon te betaal nie.

Trouens, as die pakket van byvoordele in berekening gebring word, sal dit blyk dat die meeste boere meer as die minimumloon betaal.

Die standpunt van TLU SA is dat die probleme van De Doorns nie nou ten laste gelê kan word vir die hele landbou bedryf nie. Bowendien het TLU SA sy bedenkinge of die onrus by De Doorns suiwer oor landbou gaan. Gemeet aan die uitsprake van die ANC se leier in die Wes-Kaap, Marius Fransman, is dit duidelik dat politiek die oorwegende rol speel, waar die ANC die Wes-Kaap wil destabiliseer in sy pogings om weer in beheer van dié provinsie te kom, en as voorbereiding vir die ANC se leiersverkiesing volgende maand by Mangaung. “Mnr. Fransman behoort deur sy party gedissiplineer te word oor sy uitsprake teenoor boere. ’n Verskoning is nie eers genoeg nie: hy behoort soos Julius Malema summier uit die regerende party geskors te word.,”

Die president van TLU SA, mnr. Louis Meintjes, het dit benadruk dat TLU SA nie namens sy lede kan besluit wat die lid sy arbeiders moet betaal nie.

Dit wil voorkom of die 37 000 kommersiele boere in Suid Afrika toenemend verantwoordelik gehou word vir die sosio-maatskaplike probleme in die land. “Dit is nie landbou se plig nie, en die regering en die verantwoordelike instansies moet self die oplossings daarvoor,” sê mnr. Meintjes.

Geen arbeider word gedwing om by ’n werkgewer te bly nie. Ons wil plaaswerkers aanmoedig om werk te soek en diens te aanvaar waar hulle die beste loon ontvang

Sou die minimumlone in die landbou verhoog word, sal dit gewis lei tot verdere afdankings. “’n Werkgewer wat voorsiening maak vir R20 000 in sy maandelikse begroting, sal eenvoudig ’n verhoging na R30 000 of selfs R40 000 per maand nie kan betaal nie. Hy sal dus moet rasionaliseer. Sou daar ‘n drastiese verhoging in die lonerekening van ‘n boer wees, sal hy noodgedwonge moet kyk na produktiwiteit van die werkers en sal hy sy arbeidsmag dienooreenkomstig moet verminder.

“Salaris is die prys van arbeid, en in ’n vrye mark behoort die arbeider self oor sy salaris te kan besluit. Aan die ander kant sit die boer in die posisie dat hy ’n prysnemer is wat maar moet vat vir sy produkte wat hom aangebied word. As minimumlone verhoog word na onverantwoordelike, onwettige en selfs misdadige optrede, kan die punt bereik word dat boere ook kan begin ‘eis’ om R5 000 vir ’n ton mielies of R50 vir ’n kilogram tamaties te kry,” sê mnr. Meintjes. “Hierdie aksies en teenaksies sal lei tot die vernietiging van die ekonomie, en TLU SA sal nie daaraan aandadig wees nie.

One Response to Landbou reageer op De Doorns

  1. Wil

    November 21, 2012 at 7:31 pm

    Die ANC stook rasse rewolusie omdat swartes hom lankal verwerp.
    ‘n Owerheid is slegs wettig en beskaafd indien dit altyd net die beste belange van alle burgers dien. Die beste manier is die wysheid om aan ander mense te doen wat mens wil hê hul aan jou moet doen. Dit beteken dat vir elke reg wat mens wil hê, moet mens eerste dieselfde plig teenoor ander mense nakom. Dus ken elke mens die voorvereiste plig vir elke reg. Wyse mense voorkom of herstel afwykings daarvan vir beskerming van lewe, liggaam, besittings, lewensbestaan, persoonlike vryheid, ens. Dit is hoekom eendersdenkende mense hulself moet regeer in hul eie land, selfs stad(t)state. Hierdie selfregerings, of voornemend, moet hul eie globale liggaam skep om hul vryheid te verseker.