Subscribe by Email

Landbou ongelukkig oor minister se eenparige besluite

Om van boere te verwag om eenvoudig 40 persent van hulle boerdery se belang oor te dra aan swart aandeelhouers, is verregaande en totaal onaanvaarbaar.

Dit was die reaksie van TLU SA se president, mnr. Ben Marais, op die aankondiging in dié verband van die Minister van Landbou, me Tina Joemat-Petterson. “TLU SA is, om die minste daarvan te sê, absoluut verstom oor hierdie aankondiging. Ons sukkel nou al hoe lank om ‘n afspraak met die Minister te kry om oor landbousake te besin. Vergaderings word uitgestel en in die laaste geval het sy nie eens moeite gedoen om kennis te gee dat sy nie meer beskikbaar is nie. Na hierdie aankondiging begin ons die indruk kry dat sy nie kans sien om ons in die oë te kyk nie, omdat sy weet met watse onaanvaarbare belaglikheid sy tans besig is,” sê mnr. Marais.

“Die Minister wil die boere beskuldig dat hulle die oorsaak is dat daar nog nie 30% grond aan swartes oorgedra is nie, omdat hulle die gewillige koper, gewillige verkoper-beginsel gebruik het. Die staat beskik reeds tussen homself, Swartes, Kleurlinge en Indiërs oor 56% van die grond in Suid-Afrika, volgens demografiese studie vir die Ontwikkelingsbank in 2001. Steeds stu hy voort op inhalige wyse om nog meer grond skynbaar verniet te wil bekom. Dit was en is vir boere onaanvaarbaar. Natuurlik sal boere leun op die vryemarkstelsel om ‘n behoorlike waarde vir hulle grond te kry. TLU SA het bowendien ‘n redelike vermoede dat die regering in elk geval nie genoeg bekwame swart boere kon kry om op die grond te plaas nie. In terme van eie regeringsuitsprake het ongeveer negentig persent van die swart bemagtigingsprojekte in landbou misluk.

“Wil die Minister nou ‘n mislukking van 30% van die landbougrond sien? Nou kom sy, sonder om met landbou en die boere te gesels, met die verregaande idee dat boere veertig persent van hulle bedryf moet afstaan. Mag hier weer eens geen markverwante prys vir die aandele gevra word nie? Is die gedagte dat die aandele ook gratis of byna gratis oorgedra moet word? Dit sal net so onaanvaarbaar wees as om grond verniet te wil bekom,” sê mnr. Marais.

“Die minister het skynbaar gesê dat die boere ‘n keuse het om saam te werk of om vas te skop. Sy kan maar kennis neem: TLU SA sal namens sy lede vasskop, in landsbelang. Want die minister se plan is ‘n bloudruk vir die vernietiging van voedselsekerheid. Hierdie eksperiment sal net so ‘n mislukking wees as die vorige,” sê mnr. Marais.