Subscribe by Email

Land van melk en heuning word deur arbeidswetgewing een van woestyndorings

Daar kan heel moontlik dadels van pres. Jacob Zuma se beloftes oor die skep van werksgeleenthede kom. Die dood in die pot vir dié werksgeleenthede, en die R29 biljoen wat daarvoor begroot is, is vyf wetsontwerpe. Dié wetsontwerpe, skryf Finweek, hou eerder die potensiaal in om werkgeleenthede nek om te draai as te skep.

Maar die Minister van Arbeid, Mildred Oliphant, is horende doof al het haar eie departement in sy risiko-analise op die katastrofale potensiële uitwerking hiervan gewys.

Volgens dié analise kan permanente indiensneming toeneem, maar in geheel is dit ‘n redelike aanname om te aanvaar dat die totale vlakke van indiensneming sal afneem. Die analise lui voort dat maatskappye eerder van kontrakaanstellings gebruik kan maak, afleggings doen, of selfs heeltemal sluit onder die aanslag van die voorgenome wetgewing.

Finweek wys daarop dat hierdie wetgewing die eerste werklike wetgewingspakket van die Zuma-era is, en dat dit dui oor hoe die klem weg van ekonomiese realiteite na die ideologiese magspel binne die ANC verskuif.

Ook Judith February van Idasa meen dit toon hoe Zuma tussen botsende menings in die ANC navigeer om vir hom ‘n tweede termyn as regeringshoof te beding.

Met drie van die vyf wetsontwerpe word aanpassings aan bestaande arbeidswetgewing gemaak. Dit is die wette op basiese diensvoorwaardes, die wet op arbeidsverhoudinge en die wet op gelyke indiensneming. Die vierde wetsontwerp, die Indiensnemingswet, is nuut, en die vyfde, die wetsonwerp op Verblyfsekerheid op plase, beteken boere trek die kort lootjie. Onder hierdie wetswysiging word die arbeidsbedeling vir landbou strenger, sal plaaswerkers nog moeiliker as in die verlede van plase afgesit kan word, sal plaaswerkers en hul gesinne op plase, aldus Agri SA, in mededinging met boere kan boer, byvoorbeeld deur vee aan te hou, weiding te verkry, en selfs gewasse aan te plant. Dié regte mag nie onredelik beperk word nie. Boere wat plaaswerkers konstruktief van die plase afsit, maw die wêreld so moeilik maak dat hulle self trek, kan ‘n boer vyf jaar klippekap op die lyf laat loop, skynbaar sonder die keuse van ‘n boete.

Die doel is skynbaar om plaaswerkers aan te moedig om in agri-dorpies te gaan woon, en hiervoor word weer gehoop sal boere grond skenk. Die inwoners sal nie eiendomsreg kry nie, maar ‘n verblyfreg, wat kenners meen ook sal help om armoede in die hand te werk. In absurde teenstelling het verskeie regeringsbeleidsdokumente al landbou geïdentifiseer as die bedryf wat die grootste potensiaal het om werksgeleenthede te skep.

Die wetsontwerp op arbeidsverhoudinge streef daarna om van alle werksgeleenthede permanente werksgeleenthede te maak. Seisoenarbeid sal taboe wees tensy die werkgewer vastetermyn-kontrakte kan motiveer. Arbeidsmakelaars word aan die ban gedoen. Met die vaste-termynkontrakte sal die werkgewer ook verplig wees om dieselfde voordele te bied as met werknemers wat permanent in diens is.

Die boubedryf sal onder meer hierdeur getref word, want tot 50 persent van die werknemers is kontrakwerkers, en om gelyke geldelike waardes aan hulle toe te staan, sal die projekkostes verhoog. Baie firmas sal na verwagting ondergaan, terwyl ander baie werkers in die pas sal moet steek.

Ingevolge die nuwe arbeidswet, sal werknemers die staat oor alle vakatures en aanstellings moet inlig. Die verwagting is dat die rol van indiensnemingsagentskappe hiermee in die slag kan bly, en dat die staat die funksie sal oorneem. Dit is te betwyfel of die staat oor so ‘n vermoë sal beskik. Ook die strawwe ingevolge die wetsontwerp op gelyke indiensneming sal verskeie firmas na verwagting laat vou.

Dié nuwe maatreëls kom te midde daarvan dat Suid-Afrika reeds tel onder een van die mees rigiede arbeidsbedelings ter wêreld. Op die Wêreldekonomiese Forum se Mededingsindeks kom Suid-Afrika 135ste uit die 139 lande wat ondersoek is. Wat fleksieteit met loonbepalings betref, kom Suid-Afrika 131ste, en in terme van lone gemeet teenoor produktiwiteit, 112de. Die gevolg is dat nie-konvensionele werksgeleenthede, in teenstelling met permanente werksgeleenthede, skerp toeneem. Verlede jaar het dit met 151% tot amper 4 miljoen toegeneem.

In die laagegeskoolde omgewing waar die ekonomie boonop stadig groei, is mense dikwels uitgelewer aan ‘n keuse tussen onkonvensionele werksgeleenthede, en geen werksgeleenthede.