Subscribe by Email

Laaste renoster in Viëtnam gestroop

Met die nuus dat stropers die laaste Javaanse renoster in Viëtnam gestroop het, is daar kommer dat Viëtnamese smokkelaars hul oë selfs nog meer op Suid-Afrika sal rig.
Dit beteken ook dat die Indonesiese regering nog meer op hul hoede moet wees vir stropers, aangesien nog net 60 die Javaanse renosters in die Ujong Kulon-natuurresrvaat voorkom. Al die renosterspesies word egter genadeloos op jag gemaak en stropers ontsien geen metode nie, hoe grusaam dit ook al mag wees.
Ook van die ander lewende Asiatiese renosters is nie veel oor nie. Die Indiese renosters, wat soos die Javaanse renosters net een horing het, kom nog net op ‘n paar plekke voor, veral in die gebied tussen Indië en Nepal. In die natuur tel hul getalle sowat 3 000.
Van die kleiner Sumatrarenoster, wat soos sy Afrika-soortgenote twee neushorings het, is nog net ‘n geraamde sowat 275 oor.
Die getalle witrenosters wat nog oor is, lyk heelwat beter as dié in Asië. Na raming is daar nog meer as 14 000 witrenosters oor. Dit is egter ook nie die volle verhaal nie – van die noordelike subspesie is waarskynlik geen oorlewendes in die natuur oor nie, en slegs enkeles in dieretuine.
Swart renosters se getalle het sedert 1960 skerp afgeneem van sowat 70 000 tot nog net sowat 2 400 in 1995. Ook hier is die situasie nie heeltemal eenvoudig nie, van die vyf subspesies het een heeltemal uitgesterf, terwyl van die ander subspesies se voortbestaan ook ernstig bedreig word.
Die interessantheid is dat die Swart- en witrenoster as nader verwant aan mekaar as aan die Asiatiese neefs beskou word, maar die witrenoster, soos die Asiatiese renosters het 82 chromosome, terwyl die swartrenoster 84 chromosome het. Die Indiese en die Javaanse renosters is ook betreklik nou verwant, maar die Samatrarenoster is nie nou aan hulle verwant nie.
Dit beteken dat die totale getal renosters wat nog leef misleidend is – kruisteling om renosters, veral die erg bedreigde spesies, van uitwissing te red, is nie so maklik nie, en in sommige gevalle onmoontlik.
Na raming is vroeg in Oktober vanjaar meer as 320 renosters in Suid-Afrika reeds vir hul horings doodgemaak.
Herman Toerien