Subscribe by Email

Kubervryheid binnekort herdenk

Internasionale dag teen kubersensuur
Oor agt dae, op 12 Maart, is dit internasionale dag teen kubersensuur.
Kuberkommunikasie het veral vanjaar skerp in die soeklig gekom weens die rol wat dit in die Arabiese opstande gespeel het, en vroeër na die gekonkel met die Iranse algemene verkiesing.
Wêreldwyd is daar nou 119 Net-joernaliste (Verslaggewers Sonder Grense noem hulle Netizens) in aanhouding, teenoor 153 “gewone” joernaliste wat agter tralies is.
Die kuberruim is duidelik steeds besig om veld te wen. Pas het ‘n opname in Nederland aan die lig gebring die meerderheid Nederlanders sal liefs ‘n maand sonder ‘n gedrukte “krant” klaarkom, as ‘n maand sonder internet. Sowat twee derde van die werksoekers gebruik ook die internet om ‘n nuwe “baan” te bekom.
Die baie bekende en gerekende gehaltekoerant van Boston, die Christian Science Monitor, verskyn nou al ‘n hele ruk hoofsaaklik as internetkoerant.
Intussen word berig dat die New York Times in die finale fase is om ‘n betaalmodel vir die lees van nuus op sy webwerf te ontwikkel. Iewers, deur die loop van die jaar, gaan die Wet van Transvaal ook hier geld – mits natuurlik, dit nie sal blyk dat lesers gewoon elders sal gaan kuier om hul nuus te bekom nie. Sindikatering beteken immers dat baie van die nuus wat die New York Times ook in ander publikasies soos die Los Angeles Times, die Montana Standard en vele meer verskyn.
Eers het Egipte, en toe Libië, gewys dat die “afsny” van internetkommunikasie moontliker is as wat algemeen aanvaar is. Die omseiling hiervan sal stellig aan die kuberkenners ‘n paar uitdagings bied. As ‘n mens sien wat alles gekraak kan word, kan diktators wat meen hulle kan dié soort inligtingsvloei op die duur beperk, hul stertvelle solank begin vet smeer.
Hulle gaan gekraak word.