Subscribe by Email

Kriminele klagtes teen Burgermeester van eMalahleni ingedien

Inwoners van die Witbank-omgewing het kriminele klagtes teen die burgermeester van eMalahleni ingedien weens die wanbestuur van die rioolwerke in die omgewing.

“Die gesondheidsrisiko word net groter en dit blyk duidelik dat die munisipaliteit net nie omgee nie,” het Kevin Opperman, die voorsitter van die AfriForum Witbank-tak gesê.

AfriForum het onlangs ʼn brief aan die burgermeester oorhandig met die eis dat die burgemeester teen 28 November 2011 met ʼn werkbare plan vorendag moet kom om die Naauwpoort rioolaanleg te herstel, dit op te gradeer en te verhoed dat riool verder in die dam gestort word. Hierdie eis is geïgnoreer.

“Daar is vandag ʼn strafregtelike klag by die plaaslike polisiestasie geopen teen die burgermeester en ander verantwoordelike persone in terme van die nasionale Grondwet, Waterwet en Omgewingswet,” het Opperman gesê

.

Die burgemeester het in ʼn skrywe gedateer 21 November 2011 gemeld dat die munisipale bestuur besig is om ʼn verslag oor die toestand van die aanleg saam te stel. In ʼn opvolgskrywe gedateer 30 November 2011, het AfriForum die munisipaliteit uitstel tot 1 Desember 2011 gegee om die plan en die verslag aan die gemeenskap te oorhandig. “Daar het niks van gekom nie,” sê Opperman.

Die rioolprobleem in Witbank is ʼn tydbom en moet dadelik aangepak word om toekomstige rampe te voorkom.

AfriForum en die gemeenskap sal volhoubare monitering toepas om te verseker dat reg geskied, asook dat hierdie probleme so gou as moontlik opgelos word.