Subscribe by Email

Krieket: Droom word nagmerrie

‘n Droomdebuut vir die jong slagbouler van die Titane, Marchant de Lange, het kort na dié jongeling sewe paaltjies vir 81 lopies platgetrek het, ‘n nagmerrie geword toe sy span desperaat moes spartel om ‘n opvolgbeurt te moes afweer.

Met reën wat in die tweede toets tussen die Proteas en Sri Lanka ‘n rol gaan speel, kon die opvolgvernedering katastrofies wees.

Die opvolgbeurt is afgeweer voor de Lange self op nommer elf voor die paaltjies moes kom stelling inneem en toe self ‘n paar windmakerige houe gespeel het.

De Lange was geen outomatiese keuse vir die toets nie, maar het onverwags plek gekry toe die boulheld van die eerste toets, Vernon Philander sy knie in ‘n oefening beseer het.

De Lange is ook nie met die nuwe bal toevertrou nie, en die snelvuur is gelei deur die meer ervare Dale Steyn en marné Morkel. Steyn het gereeld die naald dig by die 150 kilometer laat vasslaan, maar het nie die beste boulvertoning van sy lewe opgedis nie. Hy kon geen plaatjie in die besoekers se eerste beurt inoes nie. In die tweede beurt het sake darem sommer gou vir hom beter gelyk.

Morkel, oor wie se vorm daar kommer is, het in die eerste beurt effe beter gevaar wat paaltjies betref, maar hy sal self toegee dat sy swakste bal een van die paaltjies opgelewer het. Aan die ander kant moes hy die soveelste keer sien hoe ‘n paaltjie verdwyn na die hersieningstelsel nog ‘n foutbal verklap het.

De Lange het egter met reëlmaat die paaltjies ingeoes op ‘n blad wat tot voor die Proteas se kolftreurmare as ‘n dooie kolfblad beskryf is.

Hoe minder oor die Proteas se kolfbeurt gesê word, hoe beter, behalwe dat die kolfstert met Steyn aan die spits lustig geswaai het.

Tot dusver was die toets ‘n nagmerrie vir Kallis en Boucher. Kallis het sonder sukses geboul, en is in die Proteas se eerste beurt vir ‘n nulletjie uitgehaal. Boucher het 8 loslopies aan die besoekers gegun, en self net drie lopies bygedra. Hy het darem vier keer agter die paaltjies raakgevat om eilandbewoners terug te stuur pawiljoen toe.

Jacques Rudolf kan net homself blameer deur moeiteloos te kolf en weer sy paaltjie met lughou na ‘n veldwerker weg te smyt.

Vir Sri Lanka het die nommer 5 kolwer, Samaraweera ‘n 100-tal gemoker terwyl die instaan-paaltjiewagter, Chandimal, self flink vertoon het. Hy het sy 50-tal opgevolg deur drie manne te vang en een te stonk, en geen los- of bylopies af te staan nie.

Dis nog heeltemal te vroeg in die toets om koppe te wil eis. Sou die keurders egter hier en daar nuwe bloed wil invoer, is ‘n paar spelers in die bedryfsregreeks op die oomblik besig om hul goeie vorm voort te sit. Morné van Wyk begin nou ‘n konstante kolfvorm herwin, maar is nie veel jonger as Boucher om ernstig as opvolger oorweeg te word nie. Heino Kuhn wat al as kroonprins aangewys is, se kolfvorm is nou effe wisselvallig, weliswaar aan die voorpunt van die Titane se kolfpoging.

Colin Ingram en Faf du Plessis lyk nou na betroubare kolwers, en met AB de Villiers wat ‘n flinker paaltjiewagter as Boucher is, is die waarskynlike opsie nou om AB agter die paaltjies is te span, en vir Ingram en Faf plek te maak.

Herman Toerien