Subscribe by Email

Krieket: Die kolwe klap

Die Proteas het die Sri Lankane in hul openingstoets in Centurion met meer as ‘n beurt kafgedraf, maar die vraag hang steeds in die lug na die Proteas vroeër teen die Aussies nie so maklik gehad het nie: Speel Suid-Afrika met sy sterkste moontlike span?

Word na die huidige puntestand van die Supersportreeks gekyk, maak dit nie veel sin nie: Die span bo-aan die punteleer het nie ‘n enkele verteenwoordiger in die span nie. So eenvoudig is dit egter ook nie.

Die Ridders is op 70.34 punte in die eerste plek na vyf wedstryde. Die Kobras, met ‘n wedstryd minder agter die blad, blaas in hul nekke, met 61.5. Die Kobras is wel goed in die Proteaspan verteenwoordig, maar hul puntestand is grootliks sonder hul Proteaspelers bewerkstellig, en waar die Proteas wel vir die Kobras beskikbaar was, soos in die eindstryd om die eendagreeks, het die Proteas bykans voor die voet gevou, en was dit minder bekende spelers wat die wa deur die drif gesleep het.

Die Titane, in die derde plek op 58.47 punte na vyf wedstryde, is ook in die Proteaspan verteenwoordig, maar AB de Villiers is al speler wat nog werklik gelyk het of hy die pap dik kan aanmaak.

Die Leeus het 43 punte na vyf wedstryde, en die Krygers, na vier wedstryde, het pas hul eerste oorwinning geproe deur die Dolfyne in die vyfde plek te troef.

Die keurders sal wel kan argumenteer dat die vormspelers in die bedryfsregkrieket hul prestasies teen swakker teenstanders behaal, maar dit verklaar nie hoekom die dienende Proteas dan in dieselfde wedstryde swak vertoon nie. Sou die keurders aanvoer dat van die vormspelers ook maar wisselvallig vertoon, het hulle ‘n punt beet, maar weer eens, dieselfde geld vir die Proteas.

Die vertoning van die Ridders se voorste spelers is ‘n tipiese voorbeeld van wisselvalligheid – die een oomblik briljant, en die volgende oomblik sommer gou terug in die kleedkamer. In alle billikheid, die Ridders is erg deur beserings ontwrig, en van die instaanspelers het dan die geleentheid aangegryp, om maar net daarna ook weer te vou. Spelers van wie vanjaar verwag is die kolwe goed sal laat klap is Boeta Dippenaar, Dean Elgar en Rilee Rossouw. Al drie het egter ewe veel keer gevou as wat hulle die lopies ingeryg het. Obus Pienaar kon nog nie heeltemal aan die verwagtinge van vroeëre beloftes voldoen nie, maar kompenseer met ‘n mate van bestendigheid. Morné van Wyk is ewe wisselvallig. Sou die Ridders ‘n slag ‘n volsterktespan kon kies en vyf kolwers haal gelyk vorm, gaan die opponente knaend die bal bitter ver moet gaan haal.

Daar is miskien ‘n ander manier van sake beoordeel.

Met die storm wat oor die Protea-paaltjiewagter, Mark Boucher se kop broei, kan twee vrae gevra word: Is Mark steeds die beste paaltjiewagter agter die penne? Hieroor sal kenners verskil, en Mark is self daaraan aandadig. Soms doen hy ‘n stukkie briljante keerwerk, maar soms skiet balle by hom verby wat die meeste klub-paaltjiewagtesr sonder veel moeite sou kon keer. In Sri Lanka se eerste beurt het die Proteas uit 180 lopies 18 ekstras afgestaan. Hiervan was 10 wydlopers en foutballe – die res was bylopies of loslopies. Ekstras wat moontlik voor Boucher se deur gelê kan word maak 8 uit 180 lopies uit, of 0,45.

Sri Lanka het in die Suid-Afrikaanse kolfbeurt van 411 lopies 17 ekstras afgestaan, waarvan net twee by- of loslopies was. Die plaatjiewagter kan dus dalk vir 0,005 van die lopies verantwoordelik gehou word.

Boucher het ‘n tweede kans gekry om sy staal te toon. Uit die Sri Lankane se 150 lopies was daar dié keer 11 ekstras, waarvan net een ‘n bylopie was, dus 0,006. Boucher kán dus, maar die verskil tussen die twee beurte is groot.

Die gehalte van die boulwerk moet ook in gedagte gehou word.

Wat kolfwerk betref, sal elke huidige diensdoenende bedryfsreg-paaltjiewater in die land plus ‘n paar provinsiale paaltjiewagter waarskynlik beter as Boucher op stryk wees.

Daar is ‘n saak uit te maak vir ervaring, maar of dit wys is om soveel senior spelers met wisselvallige vorm in die span te hou, terwyl veral van die Kobras se ongeroemde jong spelers nou groter kolfbestendigheid aan die dag lê is ‘n ope vraag.

Iewers gaan van die senior spelers so lank in die tand raak dat hulle teen wil en dank op die rak gaan beland, en dan is van die huidige sterre dalk nie meer so kookwater nie, deels weens gewone vormverlies, maar ook deels omdat hulle gedemotiveer word. Die land het al duur betaal deur die stief behandeling wat spelers soos Louis Vorster en Lee Barnard te beurt geval het toe hulle ‘n paar seisoene konstante kookwatervorm aan die dag gelê is. Barnard is na hy oor sy beste was raakgesien, maar Vorster het nooit die geleentheid gekry nie.

Demotivering onder sulke omstandighede kan diep spore laat … vra maar vir Jacques Rudolf.

‘n Tweede vraag is of toetse werklik die beste plek is vir spelers wat van stryk af raak om hul vorm te herwin – veral as daar in die bedryfsreg spelers is wat skitterend op dreef is? Morné Morkel se vorm is nie van gister af half onklaar nie, terwyl die land juis op soek is na werklike snelboulers wat die bal gereeld by die 150 kilometer per uur grens kan jaag. Marchant de Lange is gelukkig vroeg raakgesien, en onder Allan Donald se afrigting kan dié mannetjie die speler van die toekoms word. As 21-jarige haal hy gereeld 145 kilometer per uur en glo dat hy nog vinniger kan boul. En hy geniet dit om so vinnig as moontlik te bou, én hy glo dis sy sterkpunt. Maar terwyl nie veel teenstand van die Sri Lankane verwag is nie, Morné met sy vorm sukkel en sy tuisblad onverwags groen was – moes hy uitsit.

Word te lank gesloer met die uitfasering van senior spelers wat nie meer gereeld genoeg die mas opkom nie, kan die land hom op ‘n dag met ‘n bloedjong span bevind sonder die kern van ervare spelers.

Van 27 Desember af word die volgende wedstryde in die meerdagreeks gespeel. Die Kobras en die Krygers durf mekaar aan en die Kobras kan daarna die voortou in die reeks neem. Die Ridders, wat dan teen die Dolfyne speel, sal dit probeer verhoed. Die belangrikste wedstryd van die reeks sal heel waarskynlik die wedstryd tussen die Kobras en die Ridders wees wat van 5 Januarie af in Kimberley gespeel word. Die uitslag sal afhang van watter span die meeste van sy kolwers in rat gaan kry.

Van 26 Desember af spring die Proteas en die Sri Lankane in Durban aanmekaar, en gee die reën genoeg speelkans, wag hier ‘n uithalertoets. Die Sri Lankane het Kanishka Alvitigala, ‘n onbekende snelboulery, en die meer ervare naatbouler, Dhammika Prasad, laat kom. As Suid-Afrika nie sy beste snelvuur inspan nie, kan Durban ‘n nagmerrietoets vir die Proteas oplewer.