Subscribe by Email

Krieket: Belangrike wedstryde kom

Die stryd van die Titane, en die Titane self gaan nie eens in die betrokke wedstryd speel nie.

So kan die komende meerdagwedstryd tussen die liga-voorlopers, die Ridders, en die eendagkonings, die Kaapse Kobras in Kimberley beskryf word.

Die Ridders is na die afgelope sarsie wedstryde steeds bo-aan die punteleer na hul vernaamste teenstanders in dié stadium, die Kobras en die Titane, behoorlik afgeransel is. Die Krygers het die Kaapse skare se Nuwejaarsnaweek verder versuur na die Proteas sleg by die Sri Lankane slae gekry het, en die Leeus het op ‘n drafstap met die Titane op Benoni klaargespeel.

Die Ridders het hul tweede beurt verklaar en in die proses sy aanvangsbouler, Dillon du Preez, nog ‘n vyftigtal ontneem deur toe te verklaar in die hoop om die Dolfyne ‘n wenbare teiken te stel en dan die paaltjies in te oes. Die wedstryd het egter onbeslis geëindig.

Slegte nuus vir die Ridders is egter dat die Titane, aapstert ten spyte, meer wedstrydpunte as die Blikore ingesamel het.

Intussen het die nasionale keurders ‘n baie konserwatiewe benadering gevolg: Vir die beslissende toets lyk dit of Alviro Peterson as aanvangskolwer diens sal doen in die plek van Jacques Rudolf wat weer in Ashwell Prince se plek sal speel. Dit beteken dat Mark Boucher, wat nie meer vir die eendagspan gekies word nie, weer in die toets agter die paaltjies sal stelling inneem. Peterson het in die tweede beurt teen die Titane sy eerstebeurt-honderdtal met ‘n nulletjie opgevolg, maar sy vorm vanjaar was genoeg.

Die jong Vrystater, Dean Elgar, is intussen in die groep ingesluit wat Sri Lanka in die eendagreeks sal aandurf. Omdat hy nie in die toets speel nie, sal hy, en Rory Kleinveldt van die Kobras, nog die komende wedstryd in Kimberley kan gebruik om te slyp. Aan die ander kant, die krieketentoesiaste sal die hartlanders nie verkwalik as hulle gaan duime vashou dat die sluise van die hemel sal oopmaak nie.

Elgar gaan op die oomblik soos die meeste van sy voorste bedryfsreg-kolfmaats deur ‘n wisselvallige fase, en nog ‘n slypkans kan net die ding doen. Dié wisselvalligheid en beserings verhinder die Ridders om wedstryde behoorlik te oordonder.

Wat die eendagspan betref, is die keurders se keuses plek-plek net so brakkerig en onverstaanbaar soos hul toetsspan-keuses. Die Kryger-kolwer, Colin Ingram, kan tereg vra wat hy nog moet doen om die keurders se aandag te trek. Omtrent al verklaring is dat die keurders met die name van Ingram en sy spanmaat, Wayne Parnell deurmekaar geraak het. Waar Ingram nie ‘n voet verkeerd sit nie, sukkel Parnell met die kolf en bal, en is sy boulwerk oor die algemeen ook aan die duur kant. Om hom vir ‘n eendagreeks nader te trek maak net op geen manier sin nie.

Die eendaggroep is:

AB de Villiers (kaptein en paaltjiewagter), Hashim Amla, Johan Botha, JP Duminy , Faf du Plessis, Dean Elgar, Jacques Kallis, Rory Kleinveldt, Morné Morkel, Wayne Parnell, Robin Peterson, Graeme Smith, Dale Steyn, Lonwabo Tsotsobe

Herman Toerien