Subscribe by Email

Kraaie gaan gaap oor sentrale binneland

Temperature van tot 40 grade word die komende week vir Upington voorspel, terwyl die inwoners van Kimberley Donderdag tot 39 grade, en Bloemfontein en Klerksdorp temperature van tot 35 grade sal moet trotseer. Woensdag 30 Januarie sal die temperatuur oor dele van die binneland egter met soveel as tien gade val, terwyl dit ook oor Bloemfontein en Kimberley kan begin reën. Op 30 Januarie word reën van tussen 20 en 30 millimeter vir die sentrale binneland verwag, hoewel ‘n effens koeler Upington nie reën te wagte kan wees nie.

Dit is enkele van die voorspellings oor die volgende tien dae van die Noorweegse weerdiens, wie se akkuraatheid daartoe gelei het dat baie Suid-Afrikaanse boere dié diens se voorspellings gebruik.

Die grootste deel van die binneland het nie veel reën gekry terwyl die Noordooste van die land onder oorstromings deurgeloop het nie. Bloemfontein het sowat 20 millimeter reën gehad nadat die stad die voorafgaande maand onder die versengende midsomerdroogte deurgeloop het.

Pretoria kan Donderdag en Vrydag self temperature bo 30 grade te wagte wees, maar dan sal die temperatuur na verwagting geleidelik daal tot 22 grade op Woensdag 30 Januarie.Goeie reën word ook vir die laaste paar dae van die maand voorspel.

Herman Toerien