Subscribe by Email

Kommer oor Zuma neem toe

“Dit word al hoe duideliker waarom ‘n groot aantal kommentators in hul Vryheidsdagontledings byna alle blaam vir dit wat in die land verkeerd loop, op die skouers van pres. Jacob Zuma pak,” sê ds. Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese Party (CDP).

“Ons is oortuig daarvan dat die probleme meer kompleks is as dit, maar dit is ‘n bron van kommer oor in hoeveel omstrede kwessies Zuma geïmpliseer word. Die jongste gevalle behels adv. Glynnis Breytenbach, senior aanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag.

“Zuma word nie net geïmpliseer in die saak waarvoor sy amptelik geskors is nie, maar ook in die saak wat na bewering tot haar skorsing gelei het. In die ITC / Kumba-saak is een van Zuma se seuns by ICT betrokke, en in die Mdluli-saak, word beweer dat Zuma lt. genl. Richard Mdluli as volgende polisiehoof in die oog het.

In die konteks daarvan dat ernstige aanklagte teen Zuma self onder omstrede omstandighede teruggetrek is, en die wolk van agterdog oor die e-tol-sage, is die regering se deurdrukkery met die omstrede wetsontwerp op staatsinligting kommerwekkend.

“Die howe, met die e-tol uitspraak as voorbeeld, het ten gunste van groter deursigtigheid uitspraak gelewer, maar Zuma is self voor in die koor in die bevraagtekening of howe so onafhanklik moet wees.

“Ons wens die media geluk met die manier waarop verdagte sake na die oopte gebring word, maar merk met kommer dat die media ook gereeld onder skoot kom.

“In ‘n demokrasie, kry die mense die regering wat hulle verdien of waarvoor die meerderheid stem – goed of sleg. Slegte kieserskeuses word deur die grondwet in ‘n grondwetlike demokrasie getemper maar selfs dit word ook nou bevraagteken.

“Is dit te veel gevra om die regering te versoek om n behoorlike regering moet wees?”