Subscribe by Email

Kommer oor skaliegas en aardbewings

Van intensief met skaliegas-ontginning in die VSA begin is, was daar jaarliks ‘n toename in seismiese aktiwiteite in die gebied tussen Ohio en Colorado. Voorheen het die gebied jaarliks gemiddeld 21 aardbewings en trillings beleef, maar is 2009 het dit reeds tot 50 toegeneem, in 2010 tot 82 en 134 in 2011.

In ‘n verslag kom die United States Geological Survey (USGS) tot die gevolgtrekking dat die toename “heel waarskynlik” die gevolg van menslike aktiwiteite is, en bes moontlik die gevolg kan wees van die wegpomp van vuil water uit gas- en olieputte.

Daar kon egter geen konkrete bewyse voor gevind word nie, maar die owerheid neem die verslag ernstig op. In New York-staat is gasherwinning voorlopig opgeskort, en ‘n wetsontwerp dien voor die Kaliforniese kongres om skaliegasontginning heeltemal te verbied.

Intussen neem die jaarlikse ontginning van skaliegas in die VSA steeds toe,

Volgens opnames is die grootste skaliegasreserwes in die VSA, China, Meksiko en Argentinië aanwesig. Meksiko, wat gereeld onder aardbewings deurloop, se produksie sal na verwagting binnekort sowat $10 miljard per jaar beloop.

Ligte aardbewings kom daagliks aan die Amerikaanse weskus voor en word met die San Andreasfout en talle ander aardkorsfoute in die omgewing geassosieer. Die kommer is hoofsaaklik oor skuddings en trillings in gebiede weg van die weskus. Periodiek kom daar elders in die VSA meestal ligte aardbewings voor, soos ‘n onlangse skudding van M4.1 op die momentmagnitudeskaal in Texas. Sekere gebiede soos Virginia neig selfs om periodiek “swerms” aardbewings op te lewer, terwyl die USGS nie weet wat dit veroorsaak nie. Die USGS het selfs ‘n handleiding vir die publiek in die sentrale en oostelike VSA opgestel oor wat om in die geval van ‘n aardbewing te doen.

Tot dusver was vanjaar ‘n “mak” aardbewingjaar wêreldwyd. Slegs een aardbewing van meer as M7.1, in Alaska, is tot dusver aangeteken, maar nie eens in die USGS se lys van beduidende aardbewings vir vanjaar gehaal nie. Trouens, daar is nog geen aardbewings vanjaar op die lys aangeteken nie.

Die eerste aardbewing van M6 of meer vanjaar op land het ook pas eers voorgekom, toe ‘n skudding van 6 op 28 Januarie in Kazakstan voorgekom het. Die enigste ander skudding van meer as 6 was vroeër in die see naby Antarktika. In Januarie verlede jaar het die USGS ses skuddings wêreldwyd van M6, en een van meer as M7, as beduidend aangeteken. Daar was die afgelope week aardbewings van 5,3 in Madagaskar en 4.8 digby Marioneiland – die naaste aardbewings aan Suid-Afrika.