Subscribe by Email

Kommer oor nuwe stasiebevelvoerder in Hermanus

sapsOndanks versoeke deur verskeie belangegroepe in Hermanus, waaronder AfriForum en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), om insae te lewer alvorens ʼn nuwe stasiebevelvoerder deur die Suid-Afrikaans Polisiediens (SAPD) aangestel is, is die pos aan lt.kol. Luthando Nosilela toegeken. Nosilela is van Laingsburg na Hermanus verplaas.

Volgens Thomas van Dalen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Kaap, is die aanstelling van ʼn ervare en bevoegde stasiebevelvoerder in dié dorp vir die gemeenskap baie belangrik, juis omdat misdrywe soos dwelmhandel, bendegeweld en perlemoenstropery erg toegeneem het.

“Die SAPD het die versoeke uit die gemeenskap geïgnoreer, sowel as voorstelle vir ʼn bevoegde stasiebevelvoerder soos deur die GPF gemaak.”

Van Dalen sê verder dat hoewel hul steeds besig is met ʼn volledige ondersoek rakende die nuutaangestelde bevelvoerder se bekwaamheid, is daar reeds rede tot kommer rakende sy diensrekord en kwalifikasies. Dít volg onder meer ná gesprekke met die Laingsburg-sakekamer en belangegroepe in dié gemeenskap.

“Skriftelike versoeke vir Nosilela se diensrekord en kwalifikasies is deur die Hermanus GPF, met ondersteuning van AfriForum, aan die Overberg SAPD se streeksbevelvoerder, asook die provinsiale en nasionale polisiekommissarisse gestuur. Die kantoor van die kommissaris het ontvangs van die brief erken, maar geen verdere kommunikasie is ontvang nie,” sê Van Dalen.

Mervyn Milner, voorsitter van die plaaslike GPF, sê dat die vorige bevelvoerder se rekord en bevoegdheid ook nie na wense was nie. “Georganiseerde misdaad het die oor die afgelope twee jaar baie toegeneem. Die vorige bevelvoerder, kol. Adonis, was glo in die twee jaar wat sy in dié pos aangetel was, sowat 12 maande met siekverlof. Sy het glo ook weinig ondervinding van polisiewerk. Die persoon wat voor haar as bevelvoerder aangestel was, het na bewering ook nie aan die nodige vereistes voldoen om ʼn pos van dié aard te beklee nie.”

Milner sê verder dat die aanstelling van ʼn onbekwame bevelvoerder wat moontlik nie die misdaadprobleem sal kan takel nie, tot nadeel van elke inwoner asook die dorp se toerismebedryf sal wees.